Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Familie sukkel steeds met verlies

Die moordsaak van Margaret Linders, wie se lewelose liggaam meer as ’n jaar gelede vasgebind in haar tuinwoonstel aangetref is, sal na verwagting na die Wes-Kaapse hooggeregshof oorgeplaas en van 7 tot 28 Maart verhoor word.

DistriksPos het voorheen berig dat skok en ongeloof geheers het ná die moord en huisroof in Oktober verlede jaar in die rustige Twin Palms-woonbuurt. Dié 59-jarige se lyk is ná ’n inbraak by haar woning gevind. Die slagoffer het jare lank by ’n bejaarde vrou in ’n tuinwoonstel geloseer.

Volgens die polisie is ’n inbraak omstreeks 12:40 Sondag 21 Oktober deur die 79-jarige huiseienaar en haar dogter (52) aangemeld. Dit was nadat sy ná ’n week lange vakansie tuisgekom het en vermoed het dat iemand ingebreek het.

Die huiseienaar se dogter het in ’n onderhoud met die koerant vertel dat hulle dadelik die huis toegesluit en na die polisiekantoor gegaan het om hul vermoede dáár aan te meld. Die polisie het met hul aankoms en nadere ondersoek op die toneel op die lewelose liggaam van Linders afgekom. Volgens die polisie is die oorledene se lyk glo op haar bed aangetref. Haar hande was vasgebind en haar mond toegeplak.

Sy het geen sigbare wonde gehad nie, maar wel bloed aan haar agterkop en nek.

Van die huiseienaar se besittings wat na die voorval uit die huis vermis was, is ’n televisiestel en radio asook ’n wit Volkswagen Citi Golf wat in die motorhuis geparkeer was.

Brian Karelse (52) van Macassar is vroeër vanjaar in verband met die voorval in hegtenis geneem en 1 April aangekla van moord. Karelse se inhegtenisneming volg nadat die voertuig verlate en sonder brandstof in Macassar gevind is en inligting deur ’n informant Karelse met die voorval verbind het. Vingerafdrukke op die voertuig het ook met dié van Karelse ooreengestem.

Die moordbeskuldigde het glo ’n bekentenis afgelê waarin hy beweer dat hy en Linders mekaar by ’n kuierplek ontmoet het en daarna mekaar dikwels gesien het. Op die aand van die moord het hulle twee glo in haar woonstel gekuier nadat sy hom na bewering genooi het. Omstandighede wat tot die aanval en moord gelei het, is steeds onduidelik. Hy het haar glo op die bed vasgedruk en met ’n ornament gekap en met elektriese kabels vasgebind.

Die huiseienaar se dogter het in lig van die voorval destyds Linders beskryf as ’n kosbare mens en iemand na aan hul hart en wat baie vir hulle beteken het.

Sy het verduidelik dat Linders vir vier jaar by haar ma geloseer het en bygevoeg dat sy nie net ’n betroubare huurder was nie, maar ook ’n betroubare vriendin geword het. Sy het verder vir Linders beskryf as ’n raakvatter en ’n eerlike en opregte mens met ’n omgeehart wat altyd ’n helpende hand verleen het.

“Sy het nie verdien om so te sterf nie. Ons is verpletter deur die verlies. Die aardse goed wat vermis word, is onbelangrik; ’n lewe is kosbaar en onvervangbaar,” het sy gesê.

DistriksPos het destyds na een van die oorledene se dogters vir kommentaar uitgereik. Sy wou egter nie oor die voorval praat nie. Vandeesweek het die koerant daarin geslaag om met Linders se suster, Edith Jansen, in aanraking te kom.

Jansen het die voorval wat die lewe van haar oudste suster geëis het, as steeds ’n sensitiewe onderwerp beskryf. Veral omdat hulle met elke hofverskyning die beskuldigde, wat nie net haar suster van haar lewe nie, maar ook haar menswaardig­heid beroof het, moet aanskou.

“Dit was nie net nóg ’n moord nie of net nóg ’n persoon wat vermoor is nie. Die beskuldigde het ons spesiale persoon van ons geneem. ’n Ma van drie dogters en kosbare ouma van drie kleinkinders wat worstel met die verlies.”

Jansen het vertel dat sy nou instaan as ouma vir haar suster se kleinkinders vir wie sy nes “Ouma Margie” nou moet sorg vir hul Saterdag-bederf wat roomys van KFC en vetkoeke van Vetkoek Paleis insluit.

Jansen het voorts haar suster beskryf as die suster met die fynste liggaamsbou, maar wel die sterkste van hulle vier. Sy was die een wat jou hoop gegee in tye van moedeloosheid; altyd ’n oplossing gehad en plan gemaak het wanneer daar ’n probleem was; laat lag wanneer jy gedink het dit was onmoontlik; en besorgd was oor ieder en elk, het Jansen gesê. Sy het bygevoeg dat Linders onthou sal word vir haar joviale gees, sin vir humor en die persoon wat krediet gegee het waar dit verskuldig was.

Jansen het gesê wat hulle mal gemaak het, is dat Margie uit liefde vir die familie-kinders hulle alles toe­ge­laat het – hulle kon hul vingertjies in die grondboontjiebotterpot druk vir ’n lekkie daarvan en op die bed spring vir hul vermaak. En, niemand smul meer aan gebakte vis soos sy die gemaak het nie.

“Ons mis haar verskriklik baie, en wat seerste maak, is dat sy twee maande voor haar 60ste verjaardag van die lewe ontneem is,” het sy aangevoer.

“Ons is in rou gedompel en sukkel om die verlies te verwerk. Maar nes sy ons geleer het, pak ons elke dag met die genade van God aan.”

Die familie verwag om Dinsdag 10 Desember weer in die hof te wees om ’n voorverhoor-by te woon.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak DistriksPos Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.