Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Het jy haar gehoorapparaat gesien?

’n Macassar-ouerpaar se desperate soektog na hul doofstom dogter se verlore kogleêre gehoorapparaat het nog geen vrugte afgewerp nie.

Francois en Marschello Kuhn soek die afgelope twee weke hoog en laag na die apparaat wat hul dogter, Rozanne, die gawe van gehoor gee, maar tevergeefs. Die meganisme is sedert Sondagaand 27 Januarie soek.

Volgens Francois het hy dié aand ’n buurvrou se swanger dogter na die Helderberg-hospitaal vervoer om geboorte te skenk. Die apparaat was toe nog veilig in die kompartement agter die bestuurdersitplek.

“Die swanger meisie het ’n lêer met ’n staal-knipbord daarin geplaas en dit uitgehaal toe ons by die hospitaal stilhou,” onthou die pa van drie.

“Die apparaat het ook ’n magneetgedeelte en dit moes aan die lêer vasgeklou het. Ongelukkig het ek nie dadelik besef dit is weg nie.”

Die gesin het die volgende dag besef die apparaat is skoonveld en onmiddellik ’n soektog begin deur rond te vra en dit op sosiale media te plaas. Hulle het die hospitaal gebel, maar daar was geen teken van die gehoorstuk nie.

Rozanne (22) het as driejarige ’n operasie by die Tygerberg-hospitaal ondergaan in die hoop dat haar gehoor sal verbeter. Sy het terapie ondergaan, maar die ouerpaar is daarna ingelig dat die peuter se gehoor baie swak is.

Sy was vyf jaar oud toe sy deur middel van ’n skenker ’n kogleêre inplanting gekry het. Marschello en Francois moes 50% van die geld insamel om die operasie en die apparaat te dek.

“Rozanne het liplees bemeester en terapie by die Carel du Toit-sentrum ontvang,” sê Francois.

“Oor die jare het ons ’n goeie verhouding met die dokters van die kogleêre afdeling van die Tygerberg-hospitaal opgebou en die apparaat is gereeld verbeter en jaarliks opgedateer.”

Sonder die meganisme is Rozanne verlore, verduidelik haar pa. Sy sprankelende, glimlaggende dogter het sedert die verdwyning teruggetrokke geraak en is gefrustreerd dat sy nie soos gewoonlik met haar vriende en familie kan kommunikeer nie.

Die jong vrou wat in 2017 aan die Nasionale Instituut vir Dowes in Worcester afstudeer het, kan ook nie haar droom om as skoonheidsterapeut te werk, uitleef nie.

“Sy moet met haar kliënte kan kommunikeer, maar sonder die gehoorstuk is dit nie moontlik nie. Baie mense verstaan nie haar omstandighede nie en is baie ongeduldig,” vertel Francois.

“Rozanne wil haar eie lewe lei, maar is baie mismoedig sedert die apparaat verlore geraak het. Sy praat nie meer baie nie en het besluit om ’n werkie by ’n parfuummaatskappy, waar net dowes werk, te aanvaar.”

Francois se plasings op Facebook het geen reaksie uitgelok nie en hy het navrae gerig om die koste van ’n nuwe apparaat te bekom, maar die gesin is nie in staat om die R90 000 te betaal nie. Francois werk tans vir ’n aluminium­installeerder en Marschello as opsigter by ’n Somerset-Wes-kleuterskool.

Hy het reeds ’n tweede werk aangeneem om ekstra geld vir sy gesin te verdien.

Intussen het hy vasgestel dat Rozanne net die eksterne gedeelte van die meganisme, wat R2 800 kos, kan gebruik.

“Ons gaan ook kyk om moontlik ’n tweedehandse apparaat te kry, maar sy sal in die toekoms ’n splinternuwe een moet kry,” sê Francois.

“Daarom rig ek ’n dringende versoek aan die gemeenskap: As iemand dalk Rozanne se apparaat opgetel het, bewaar dit asseblief en besorg dit terug aan ons. Daardie apparaat is baie belangrik vir my dogter en haar toekoms.”

As jy dalk die apparaat opgetel het of weet waar dit is, bel Francois dringend by 079 637 9605.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak DistriksPos Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.