Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Hulle kan nie lewe sonder krieket indink

’n Blink toekoms wink vir vier krieketspelers wat die geleentheid gekry het om hul talente op ’n toer ten toon te stel.

Leerders aan Hoërskool Strand, Shane Craythorne, Liam Martin, Jarred Verwey en Henco Stofberg, is verlede jaar by Hoërskool Punt in Mosselbaai se KFC-krieketfees gekies om na Sri Lanka te toer.

Dié een-keer-in-’n-leeftyd-geleentheid vorm deel van Travel and Sport se akademiese en sporttoer en gee die kranige krieketspelers die geleentheid om 10 dae teen plaaslike klubs te speel en ook om meer van die land te leer.

Die toer wat vier krieket­wedstryde in verskeie dorpe insluit, vind van Maandag 17 tot Vrydag 28 Junie plaas.

Die leerders deel ’n passie vir krieket en het dié sport al van kindsbeen af beoefen.

Shane meen al wat hy wou doen, was om krieket te speel en dit is vir hom ’n groot lekkerte om saam met sy maats tot laat aande krieket in die pad te speel. Dié talentvolle jong draaibouler wat deur Australië se Nathan Lyon geïnspireer word, het in 2016 die prys vir die beste vordering in krieket ontvang en het vanjaar vir die tweede keer die Boland-proewe gehaal.

Volgens Liam het sy passie vir krieket van kleins af ontwikkel en hy bewonder AB de Villiers vir sy fassinerende benadering tot die spel. Onder die lys van uitsonderlike prestasies wat die skool se eerstespankaptein oor die jare behaal het, is: . boulsyfers van 5/22 in ’n wedstryd;. kolwer van die jaar vir o.14 en o.15; . o.17-veldwerker van die jaar; . opgeneem in die Boland- en SA Platteland-span vir o.17;. aangewys as T20-kolwer van die jaar met ’n gemiddeld van 98 in 2019; en. vir die tweede agtereen­volgende jaar gekies vir die Travel and Sport-toerspan – eers vir die Nederlandse toer verlede jaar en nou vir vanjaar se Sri Lanka-toer.

Jarred is van jongs af blootgestel aan sport aangesien sy ouers op provinsiale vlak aan sport deelgeneem het.

“My pa was ’n kranige krieketspeler en dáár het my liefde vir krieket begin,” sê dié jongeling wat meen sy vermoë om kop te hou in ’n wedstryd, goed te kolf en as veldwerker alles vir sy span te gee, is wat hom ’n uitstekende krieketspeler maak.

Dié AB de Villiers-aanhanger was lid van die laaste o.13-groep vir WP-proewe en speel al van o.14 af vir die skool se eerste span.

Henco vertel dat hy van kleins af al lief was vir krieket, maar dat die gogga hom eers met die begin van sy hoërskool­loopbaan in gr.8 gebyt het.

Sy prestasies is onder meer ’n 100-tal en sewe paaltjies in ’n wedstryd. Hy is ook in o.14, o.15 en in 2017 as die beste kolwer aangewys.

Hy bewonder die Suid-Afrikaanse kriekethelde Aiden Markram en die afgetrede Jacques Kallis vir hul puik kolfwerk en veelsydigheid.

Benewens dié vier krieket­spelers se passie deel hulle ook ’n sportdroom om eendag vir die Proteaspan uit te draf en op internasionale vlak te kan meeding.

Al vier is gevra om die sin, “ ’n Lewe sonder krieket, is soos ’n lewe sonder . . .” te beantwoord, en hul onderskeie antwoorde was soos volg: ’n hartklop (Shane); suurstof (Liam); avontuur – aangesien die spel so onvoorspelbaar is, kan selfs die beste speler vinnig teruggebring word aarde toe (Jarred); en tegnologie (Henco).

Hoewel hulle grotendeels die toer wil geniet, hoop die ywerige krieketspelers ook om hul kennis rakende die klimaatsverskille en omstandighede te verbreed, om verhoudings met ander spelers en afrigters op te bou, hul skool se naam hoog te hou en nuwe hoogtes in die sport te bereik.

V ’n Ses-aan-’n-kantwedstryd om geld in te samel, word Saterdag 30 Maart by die skool in Sarel Cilliersstraat aangebied. Enigiemand wat belangstel om deel te neem of finansiële ondersteuning aan die leerders te bied, kan ’n e-pos stuur aan Ronelle by ronellecraythorne07@gmail.com of Lorraine by lorraine@hsstrand.co.za.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak DistriksPos Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.