Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Ingenieur leef nou sy koffiedroom

’n Mens is nooit te oud vir ’n nuwe doel óf om ’n nuwe droom te droom nie.

Hiervan kan Robbie Schmidt van Strand getuig. Hy is ’n bedryfsingenieur wat 25 jaar as tegnologieprojekbestuurder in die korporatiewe omgewing in Suid-Afrika en Amerika gewerk het en vandag verkoop hy koffie. Dit is sy passie en sy droom.

“ ’n Gesondheidsprobleem in 2015 het my tot my sinne laat kom. Ek het die gevoel in my regterhand verloor. Ek het in die herstelperiode ná ’n nekoperasie besef dat ek heeltemal te lank nie my passie gevolg het nie – ’n passie vir kreatiewe ontwerp, praktiese toepassing van tegnologie, entrepreneurskap, en natuurlik koffie,” sê Robbie.

Hy het ’n leemte in die mark gesien vir die ontwerp van ’n omgewingsvriendelike mobiele koffie-onderneming met die vermoë om hoëgehalte en groot volumes koffie te voorsien, met of sonder ’n eksterne kragbron.

“Ná vele konseptuele ontwerpe en weergawes het ek gemaklik gevoel om in die nodige voertuig en toerusting te begin belê.”

Die eerste dag terug by die werk, ses weke ná die operasie, het hy besef dat hy nie meer omdraaikans het nie.

“Ek het my bedanking ingedien en SixWeeks Mobile Barista is gebore, met die gepaste e-posadres freedom@SixWeeks.co.za,” sê hy.

Ná ses maande se lang dae en nog langer nagte agter die rekenaar en in die motorhuis, was die voertuig gereed om sy buiging te maak. “Natuurlik met die hulp van plaaslike ondernemings soos Gebrateq (Johan Braasch), TFD Manufacturing (Ian Jacobs) en Merkava Coffee.”

Robbie sê dis lekker om sy passie uit te leef – van die ontwerp en bou van die voertuig tot die voorsiening van goeie gehalte koffie waar mense dit die nodigste het: Vroegoggend langs die sportveld of laataand by ’n geselligheid.

Hy kan ook meer tyd saam met sy vrou, Elzbeth, en kinders, Natasha (17) en Robert (12), deurbring. “My kinders help gereeld met die kasregister en die koffiemasjien,” sê hy.

“My gunstelingkoffie is ’n sterk flat white met die perfekte micro foam, want ’n mooi prentjie is ’n bonus,” sê Robbie.

Cappuccino of Cafe Mocha is vroegoggend gewild en namate die dag warmer word, verkies baie mense yskoffie of vrugteslushies.

Wat maak SixWeeks Mobile Barista uniek?

“Die voertuig inkorporeer groen tegnologie in die ontwerp. Die sonpanele op die dak van die voertuig laai hoëvermoëbatterye. Die sonpanele is op ’n beweeglike dakrak aangebring wat dien as ’n dak waaronder koffie voorberei en bedien word. Tussen sonkrag en vloeibare gas kan ons sonder ’n eksterne kragbron funksioneer.”

Hy leef ingevolge die woorde van CS Lewis, “You’re never too old to set another goal or dream a new dream.”

Kontak Robbie by 072 932 1899 of besoek sy webblad by www.SixWeeks.co.za of sy Facebook-blad by www.facebook.com/SixWeeksMobileBarista vir nog inligting.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak DistriksPos Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.