Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Ira leer uit elke karakter

Fiela Komoetie, Nina die boskind en Benjamin Komoetie is maar net van die karakters van Fiela se Kind uit die pen van die bekroonde Afrikaanse skrywer Dalene Matthee wat in ons harte gekruip het.

Hoe kan ons vergeet hoe Fiela verbete bly veg het om Benjamin by haar te hou? Dis in dié fliek waar Shaleen Surtie-Richards, nadat sy haar rol as Fiela met soveel deernis en passie vertolk het, bekendheid verwerf het.

Nou kan Helderbergers uitsien na nóg ’n fliek oor die bosmense, Toorbos. Wat dié fliek nog meer spesiaal maak, is dat die bekende Helderberger Ira Blanckenberg een van die hoofrolle vertolk.

Ira vertolk die rol van Meliena Kapp, die hoofkarakter, Karoliena, se ma. Sy is ’n geharde bosvrou wat armoede en swaarkry ken. Sy sal enigiets doen om haar dogter uit die omstandighede te red waarin sy haar bevind.

Volgens Ira het sy, nadat sy die rol gekry het, weer aan drome begin glo. “Ek moes myself letterlik knyp toe ek die rol losslaan. Ek is ’n reuse-Matthee-aanhanger en ’n week voordat die oudisie toegestaan is, het ek ’n droom gehad dat ek in ’n Matthee-fliek gaan speel. Sien, drome word waar!” sê sy.

Ira vertel sy het van jongs af boeke van Matthee gelees.

“Ek dink Fiela se Kind is een van die boeke uit my jeug wat my gevorm het – die heelnag opbly omdat jy nie die boek kan neersit nie; die snot en trane huil so dat jy nie die woorde voor jou kan sien nie; die liefde vir Afrikaans; die diep besef dat ongeregtigheid en vooroordeel ons wêreld kan verwoes; en die magiese towerkrag van die natuur wat deur ons almal bruis.”

Ira is ’n bekende op die verhoog, kassie en grootskerm en het al verskeie rolle vertolk. Vir haar is elke rol ’n uitdaging en is dit vir haar heerlik om haar passie te kan uitleef.

“Om ’n gunstelingkarakter te kies, is baie moeilik. As akteur delf ek diep in elke karakter en word baie lief vir elkeen vir dit wat hulle ons leer asook die vreugde wat dit meebring om hulle te vertolk. Wat teater betref, was die rol van Hermien in Drif deur Reza de Wet en regie deur Mari Borstlap sekerlik een van my grootste leerskole. Hierdie komplekse rol was ’n reuse-uitdaging en ’n voorreg. Op televisie het ek al in vele sepies en televisiereekse gespeel en ek het waardering vir elke rol. In die fliek Griekwastad het ek die voorreg gehad om saam met Jozua Malherbe as regisseur te werk – wat ’n ongelooflike ervaring was.

“My rol in Toorbos was soos om die lekkerste sjokolade as geskenk te kry. René van Rooyen is ’n wonderlike regisseur vir enige akteur, met haar vertroue, geduld, leiding en konstante weerspieëling van die groter prentjie. Om ’n karakter soos Meliena te vertolk – wat uit ’n ander tyd en teenoorgestelde omstandighede as ek lewe en met ’n ander aksent praat – was die heel lekkerste lekker.”

Vir Ira, wat al 27 jaar saam met Waldi Schultz is en 24 jaar met die liefde van haar lewe getroud is, is vrou- en ma-wees seker die hoogtepunt van haar lewe. Waldi, alombekend as Jan-Hendrik van 7de Laan, is die man agter die suksesvolle Ira.

“Ek is in Johannesburg gebore, maar is van sewejarige ouderdom ’n Kapenaar. Ons het vir 7de Laan nege jaar in Johannesburg gewoon, maar is nou al 11 jaar terug in Somerset-Wes,” vertel sy.

Vir dié natuurliefhebber is Somerset-Wes die geskikte plek om te woon en kinders groot te maak. “Hierdie is een van die mooiste dorpe in die land, onder die berg en naby die see. Ek is baie lief vir die natuur, en hier voel ek dit aan. Ek is bevoorreg om hier te kan woon,” sê sy.

Dit was nie altyd maanskyn en rose vir Waldi en Ira nie. Dié ouers van ’n seun en ’n dogter het al deur diep water gegaan.

“Ons seun is in 2013 in ’n fratsongeluk in Hermanus oorlede. Ons dogter is tans in matriek,” vertel sy.

Volgens haar het die lewe haar geleer om nie langtermynplanne te maak nie. “Jy weet nie wat môre gaan gebeur nie, maar ek glo wel daaraan om elke oomblik my oë wawyd oop te hou vir elke geleentheid of vir iemand wat voor my deur kom staan.”

Ira sê sy bewonder mense wat ’n swaarder lewe as sy lei en steeds die krag vind om die mooi in die lewe raak te sien. “Nelson Mandela sal altyd my grootste held bly. Sy vermoë om bo sy omstandighede uit te styg, inspireer my.”

Volgens Ira is die vermaaklikheidsbedryf baie moeilik. “Veral in ons land – akteurs en kunstenaars het dit nie maklik nie aangesien daar nie staatsondersteuning vir die kunste is nie. My raad vir jong mense is, indien jy besluit om die kunste as loopbaan te kies, probeer so veelsydig as moontlik wees. Jy moet alles kan doen, want sodoende het jy ’n beter gans om jouself van werk in die moeilike tye te verseker.” V Toorbos is van môre af (Vrydag 13 November) in teaters te sien. Toorbos vertel die verhaal van ’n jong “bosvrou” se ontworteling in die tyd van die laaste bosbewoners van die Suid-Afrikaanse Knysna-woude in die 1930’s. Karoliena Kapp se intieme verbintenis met die boomhart van die bos word ’n hindernis in haar verhouding met die man wat sy liefkry. Wanneer Karoliena met Johannes Stander trou, ervaar sy die onderdrukking van ’n selfsugtige, geldgierige samelewing. Haar lewe word ’n stryd om aan haarself getrou te bly. André Scholtz en Dries Scholtz is die vervaardigers en René van Rooyen hanteer die regie en die draaiboek.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak DistriksPos Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.