SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Nuus
Is dit ’n skulp óf vis – nee dis rommel!

Talle trotse Helderbergers het hulle vandeesweek na sosiale media gewend om hulle teleurstelling uit te spreek oor die haglike toestand waarin die strand gelos is nadat honderde besoekers die naweek hierheen gevlug het op soek na ’n bietjie verligting teen die versengende hitte.

Die klagtes het gespruit uit die hope rommel wat agtergebly het met besoekers se terugkeer huis toe. Inwoners was veral omgekrap oor die drankbottels wat agtergelaat is, juis omdat dit nie toelaat­baar is om op die strand te drink nie.

Een só ’n Facebook-gebruiker het geskryf: “Vanoggend (Sondag, 28 Oktober) het ons 06:30 gaan fietsry. Dit was vieslik vuil. Op die Rooiels-pad staan die polisie en trek motors en motorfietse af. Meestal duurder motors. Dít terwyl tonne drank na ons strande aangery word en motors waarin die musiek al vroegoggend blêr. Vanmiddag ry ek ongeveer 18:00 verby Herschellstraat om polisiemotor te sien wat dáár patrolleer . . . dít terwyl Kusweg vol dronk mense is wat die rus van die inwoners in daardie omgewing versteur.

“Taxi’s parkeer op sypaadjies en mense sit openlik op die straat en drink. Regtig? Waar lê die polisie se prioriteit? Ons betaal swaar aan belastings om te sien hoe ons dorpe en strande onder wetteloosheid verval. As die strandgebied vol is, is hy vol. Daar moet eenvoudig ’n mate van toegangsbeheer toegepas kan word.”

Daarop het ’n ander gebruiker gereageer: “Dit was regtig ontstellend. Ek was so teleurgesteld en het gewens ons het ’n soort beach patrol.”

John Niehaus, voorsitter van die Strand-deeltitelvereniging het by navraag gesê hy het sedert die naweek talle klagtes van ongelukkige huiseienaars en verskeie organisasies rakende dié kwessie ontvang.

“Ek self is Sondagoggend daar verby en dit was verskriklik om te sien.”

Niehaus het gesê hy het onmiddellik met die voorsitter van subraad 8 in aanraking gekom om dié kwessie te bespreek. Daar is besluit om ’n strategievergadering te belê om saam met die onderskeie rolspelers te kyk met watter planne ons vorendag kan kom om die probleem aan te spreek.

“Die gemeenskap wil saamwerk en oplossings vind.”

Wyksraadslid Carl Punt het gesê weens die groot toestroming van besoekers is druk op die Stad se hulpbronne geplaas en moes daar op verskeie vlakke ingegryp word.

“Normaalweg ervaar ons eers sulke oorvol strande oor naweke van middel November tot aan die einde van die feesseisoen.

“Dit is vir my teleurstellend dat sommige besoekers op ons strande geen respek toon om dit skoon te hou en te laat vir die volgende mense nie. Rommelstrooi is ’n groot probleem, nie net op die strande nie maar ook landwyd. Die Stad het skoonmaakspanne wat ons strande daagliks skoonmaak en dit was ook die geval die afgelope naweek gewees. Dit is skokkend om te sien hoe mense nie respek vir ons omgewing, strande en geriewe toon nie.

“Die Stad het reeds planne beraam, nie net om toe te sien dat ons strande skoongemaak word op ’n daaglikse basis nie, maar ook om mense in te lig oor die probleem van rommelstrooi en die gevolge daarvan. Die feesseisoen sal daar ook meer skoonmaakspanne wees om hierdie druk te hanteer.”

In reaksie op dié probleem met drankmisbruik op die strand, het Punt bekragtig dat geen drankgebruik in die hele strandgebied in wyk 83 toegelaat word nie.

“Dit is ook duidelik met kennisgewingborde oral langs hierdie gebied aangedui. Ongelukkig is daar besoekers wat nie ag slaan hierop nie en veroorsaak dit ’n taamlike probleem en ongemaklikheid vir die meeste ander besoekers wat wel wetsgehoorsaam is.”

Volgens Punt was wetstoepassers en die verkeersdepartement die naweek in Strand ontplooi.

“Daar is oor die naweek 575 eenhede drank afgevat en baie verkeersoortredings is ook hanteer. Die polisie is verantwoordelik om inhegtenisnemings, indien nodig, te maak oor dronkenskap op straat en die wet dus toe te pas, maar hul hulpbronne is ook beperk.”

Punt het die publiek gevra om hulle te help om die probleme en oortredings aan te meld “om sodoende te verseker dat daar opgetree word”.

Hy het gesê daar is Dinsdag (30 Okto­ber) met al die rolspelers, wat wetstoepas­sing, buurtwagte en mediese- en reddings­dienste insluit, vergader ter voorbe­rei­ding op die komende feesseisoen en alle aspekte rakende dit te bespreek.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak DistriksPos Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.