Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Jannie blom nie net by sy werk nie

SOMERSET-WES – “Glo in dit wat jy wil doen en doen dit na die beste van jou vermoë.”

Dít is die leuse waarvolgens die plaaslike inwoner Jannie du Toit lewe en wat hom meer as drie dekades van werksgenot gegee het.

Dié 53-jarige inwoner van Somerset-Wes het 31 jaar op die voorstedelike treindiens gewerk en was 29 jaar die bekende gesig wat pendelaars vriendelik by die Somerset-Wes-treinstasie gegroet het. Jannie werk die afgelope twee jaar by Stellenbosch-stasie as kaartjiebeampte.

Sy loopbaan het in 1989 met ’n suksesvolle werkonderhoud in Kaapstad begin. Hy sou aanvanklik op 23 Januarie 1989 by die stasie in sy geboortedorp, Grabouw, aansluit, maar weens omstandighede is dié stasie egter gesluit en moes hy by die Strand-stasie aanmeld. Hy is kort hierna saam met die destydse stasiemeester, mnr. Kriel, na Somerset-Wes-stasie verplaas waar hy dekades lank in diens was.

“Die tydperk by Somerset-Wes-stasie was heerlik. Ek het die geleentheid gehad om in die 29 jaar by verskeie ander stasies ‘af te los’ en elkeen se uniekheid geniet. Hoewel pendelaars dieselfde vorm van openbare vervoer gebruik en saam met mekaar reis, is geen pendelaar dieselfde nie,” het Jannie gesê.

Hy koester die jare wat hy as kaartjie­beampte bus- en treinkaar­tjies vir langafstand uitgereik het. “Dit was altyd lekker om daardie laaste plek op die trein of bus vir iemand te bespreek wat graag by hul geliefdes of ’n spesiale geleentheid wou wees. Verder was dit die kersie op die koek as daardie persoon spesiaal terugkom van sy reis om jou te bedank en die kosbare oomblikke van hul tydjie weg met jou te deel.

“Ek weet van ’n dr. Loftie-Eaton wat jaar ná jaar na my toe teruggekom het om sy kaartjies te koop. Hy het soveel vertroue [in my diens] gehad dat hy al sy dokumen­tasie op die stasie gelos het sodat ek dadelik die kaartjies vir hom moet uitreik as daar plek op die besprekingstelsel beskikbaar is. Daardie jare is alle kaartjies met die hand uitgeskryf en jy moes bel terwyl die passasier by die venster staan en vir jou wag. Tussendeur moes jy ook die voorstedelike treinkaartjies verkoop, geen trein wag vir jou nie,” het hy vertel.

Hoewel Jannie ’n passie vir sy werk het, verklap hy dat hy nooit gedroom het om eendag in die vervoerbedryf te werk nie en om vir sy lang diens vereer te word nie. Hy het altyd gedink hy gaan in ’n super­mark of by ’n onderne­ming eindig. Hy het nadat hy in 1985 aan die Hoër­skool Grabouw gematrikuleer het, in die weermag in Bloem­fontein gedien. Benewens sy passie is Jannie ook hardwerkend en pligsgetrou – eienskappe wat hy geslyp het as tiener wat naweke in ’n supermark gewerk het vir sy eie sakgeld en so geleer het dat jy moet werk vir wat jy wil hê.

Hy onthou hoe hy vir die eerste jaar – toe hy in die Helderberg gewerk het – elke Vrydag met die destydse rooi spoorwegbus na sy ouerhuis in Grabouw gery het. “Ai, dit was ook ’n storie op sy eie,” het hy gesê.

“Sien, my skof het dieselfde tyd as wat die bus moes ry geëindig. Casper, die busbe­stuur­der, was partykeer ook haastig en ek en my skofmaat moes vinnig en deeglik werk – só het ek nooit die bus ver­pas nie. Intussen het ek gespaar om my eie motor te koop en daarna kon ek op my eie tyd ry. Dit was lekker tye.”

Volgens die voorbeeldige werknemer het een van sy hoërskool­onderwysers, mnr. Van der Merwe, ook ’n impak op sy lewe gehad. Dié rekeningkundemeneer se woorde, “glo in jouself en een­dag sal ander na jou opkyk”, bly by hom tot vandag toe. Dit en sy merkwaardige vaardig­heid om elke kind te ken, selfs lank ná skool.

Jannie het ná sy tweede jaar van werk blommekuns as stok­perdjie begin beoefen en, net soos by die werk, put hy baie genot daaruit om met die mooi van die natuur skeppende meester­stukke te maak. Hy was van 1999 tot 2018 voorsitter van die Helderberg-blommeklub.

“My blommekuns het my na plekke geneem waar ek nooit sou kom as dit nie vir dié stokperdjie was nie. Ek koester veral die dag toe hulle ons gevra het om die blomme te versorg vir ’n geleentheid by Vergelegen waar Nelson Mandela en Bill Clinton geëet het. Dié geleentheid is een van my hoogtepunte,” het hy trots vertel.

“My werk by die voorste­delike treindiens het my ook die geleentheid gegee om my blommekuns tot voordeel te gebruik. Buiten blommekuns­uitstallings was ek al by verskeie konserte vir gewilde kunstenaars in die vermaak­likheidsbedryf en kerkge­leenthede betrokke. Geleenthede wat ek nie sou gehad het as ek heeldag in die kantoor vasgekeer was nie – ek werk mos skofte.”

Jannie het verder gesê hy sou nie ’n ander werk wou hê nie en is dankbaar. “Elke dag bring sy eie gelag of probleem wat uitgesorteer moet word. Geen dag is dieselfde nie en geen dag is dus vervelig op die perron nie.

“Dit is ook die raad wat ek vir baie kan gee – en dit is glo aan dit wat jy doen en doen dit tot die beste van jou vermoë. Almal is uniek en almal kan ’n fout maak, maar foute is daar om van te leer.”

Jannie is in die grendeltyd op gereedheid geplaas om aandag te skenk aan enige fout wat by een van die stasies op die Stellenbosch-spoorlyn opduik.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak DistriksPos Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.