Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Jy kan leer om só deur skryf te kommunikeer

Is jy ’n aspirant-skrywer wat graag jou vaardighede verder wil slyp en die kuns wil bemeester om vir jonger boekwurmpies te skryf?

Wel, die geleentheid wag!

Mariska le Grange bied van April af een keer elke maand ’n skryfwerksessie waar sy skrywers in ’n rustige en gemaklike omgewing leiding bied in die proses om ’n kinderboek te skryf, die uitleg en illustrasie te doen en uiteindelik te laat druk. Medeskrywers sal saam gesels, idees uitruil en by mekaar leer.

Mariska is die stigter van die Helderberg-skryfskool wat sy deure in Januarie in Somerset-Wes geopen het en streef om jong gedagtes te inspireer, die towerkuns in klein alledaagse dinge terug te bring en jong skrywers ’n stem te gee.

Deur haar passie vir skryf, boeke, kuns en kinders leer sy jonger lesers dié belangrike vaardigheid, asook blootstelling aan verskeie skryfvorms en illustrasietegnieke. Kinders van agtjarige ouderdom af vind ’n veilige omgewing by die skryfskool waar hulle hul verbeelding vrye teuels kan gee.

“Die skryfskool is iets wat ek begin het nadat ek baie in skole met kinders wat wou skryf, gewerk het. In ons huidige skoolstelsel het onderwysers nie genoeg tyd om aan kreatiewe skryf af te staan nie en dit is ook nie almal se sterk punt nie. Ek leer kinders om weer hul verbeelding te gebruik. Deur die loop van die jaar doen ons verskillende lekker projekte terwyl hulle aan ’n boek van hul eie werk. Die boek word gedruk en hulle kan dit vir hul eie wins op my webblad verkoop,” sê sy.

“Skryf is ongelooflik belangrik vir kinders om logies oor probleme te kan dink en die antwoorde te kan formuleer. Die voordele van skryf is verreikend.”

Die skryfskool pronk met 13 ywerige jong skrywers wat baat vind by die klasse wat Mariska aanbied, en het nog aansoeke van kinders wat in die nuwe kwartaal sal begin.

Die klasse is klein met nie meer as ses in ’n klas nie om te verseker dat hulle maksimum aandag geniet.

“Die leerders het die kwartaal hul eerste gesamentlike boek geskryf met ’n bydrae van elkeen. Dit het baie goed gegaan en ek is aangenaam verras deur die kreatiwiteit wat na vore gekom het.”

Mariska het haar eerste boekie in ’n groot ou Bloekomboom voor die koshuis toe sy maar net nege jaar oud was, geskryf.

“Ek het nooit ophou skryf nie, maar dit het my baie jare gevat voordat ek die vrymoedigheid gehad het om iets met my skryfwerk te doen. Ek is ook baie lief vir kinders en hou daarvan om die sprankel in hul oë te sien as hulle iets nuuts leer. Die bevrediging wat ek kry wanneer ’n kind ná die les nie wil huis toe gaan nie omdat hy nog nie klaar geskryf het nie, is vir my ongelooflik spesiaal.”

Op die vraag hoekom sy glo wat sy bied uiters belangrik is, verduidelik sy: “In die wêreld waar ons kinders tans groot word, word alles so vir hulle uitgedink en voorgelê. Ek wil net hê kinders moet weer kan droom en stories opmaak; net weer kind wees. Dit is ook vir my uiters belangrik om kinders ’n stem te gee. Uit my ondervinding is die soort kind wat aan die skryfskool deelneem die soort kind wat nie noodwendig ’n groot sportster is nie. Dit is die stiller kind; skryf gee vir daardie kind ’n uiting en dit is juis daardie kinders wat so blom wanneer hulle skryf.”

Mariska vertel die skryfwerksessies vir volwassenes is geïnspireer deur navrae van ouers wat haar laat besef het dat daar moontlik ander is wat daarin sou belangstel.

“My groot doel is om my liefde vir skryf aan ander oor te dra. Ek het jare gelede toe ek self so ’n kursus wou bywoon, nêrens so iets gekry nie. Ek het maar kursusse aanlyn gevolg en oorsese klasse bygewoon.

“Ek wil graag die geleentheid vir mense bied wat dalk al vir baie jare al dink aan ’n storie of wat rondloop met idees om dit neer te pen. Dit is baie lekkerder om saam met ’n groep mense te kan sit en saam te deel. Om die geleentheid te hê om vrae te vra en om jou skryfwerk aan iemand te kan wys en leiding te kan vra, is van onmeetbare waarde.”

Mariska sê in die werksessies “gaan ek begin by die begin” en meen belangstellendes kan uitsien na:

. Watter soort kinderboeke daar is, watter boeke geskik is vir watter ouderdom, en hoe daar vir verskillende ouderdomme geskryf word.

. Hoe om te skryf om impak te maak (writing stories with purpose).

. Hoe om ’n storie te beplan en inspirasie te vind.

. Watter tipe karakters vir kinders werk.

. Hoe om te skryf en die illustrasies in gedagte te hou.

. Hoe om ’n boek uit te lê.

. Al die soorte illustrasies en hoe om die uitleg te beplan, en

. Hoe om die boek gepubliseer te kry, wat is die opsies en wat is die pad wat voorlê.

Die skryfwerksessies van minstens ses klasse word een keer per maand op ’n Donderdag by Chatters of op ’n Saterdag by die NG kerk Hottentots-Holland op die hoek van Gordon- en Cloetenbergstraat gehou. Die eerste sessies sal op 16 en 18 April van 09:00 tot 12:00 plaasvind.

“Belangstellendes wat die sessies bywoon, sal ’n storie vir hul gekose ouderdomsgroep met meer selfvertroue kan aanpak en skryf.

“Ek hoop mense wat die kursus bywoon, sal geïnspireerd wees en met ander oë na kinderboeke kyk wanneer hulle die klas verlaat.

“Ek hoop ook dat hulle die vaardigheid sal ontwikkel om die proses van die begin tot die einde deur te sien. Baie mense gee op nog voordat hulle begin skryf het, bloot omdat daar so baie onbekendes is. Ek hoop om dit in hierdie kursus te verander.”V Kontak Mariska deur WhatsApp by 084 628 3859 of stuur e-pos na info@skryfskool.co.za vir nog inligting of ander navrae.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak DistriksPos Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.