Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Kankerlyers oorwin met fietsry

Met ’n sprankelende glimlag en ’n wen-ingesteldheid sal ’n mens nooit sê borskanker is ’n bietjie meer as ’n jaar gelede by Martie Groenewald gediagnoseer nie.

Martie se dokter het haar die nuus in Augustus 2017 meegedeel, maar sy het eenvoudig besluit dit is nie die einde van haar wêreld nie. “Natuurlik was dit ’n emosionele ervaring, maar ek het vir myself gesê ek moet net die beste daarvan maak,” sê sy.

Die inwoner van Somerset-Wes het maande lank ’n “snaakse” sensasie in haar een bors gehad. Dit het gekom en gegaan en sy het dit geïgnoreer totdat sy eendag knoppe in haar bors gevoel het. Die biopsie was positief.

“Die dokter het verduidelik dat dit ’n stadig groeiende kanker is, maar ’n mens kan nie help om hartseer te voel vir die kinders en die familie nie. Ek dink omdat ek ’n natuurlike positiewe ingesteldheid het, was ek toegerus om die diagnose nie noodwendig as ’n doodsvonnis te aanvaar nie.”

Martie het al gesien hoe mense die handdoek ingooi sodra hulle sulke nuus ontvang, maar het gesê haar sportiewe leefstyl en manier van dink asook haar massiewe ondersteuningstelsel het haar deur als gedra.

Sy is al jare lank ’n fietsryer en spinning-instrukteur en het talle vriende in die fietsrygemeenskap wat oneindig kosdisse aangedra het om hul ondersteuning te toon. “Dit was ongelooflik. Ek glo ’n mens moet [sulke ondersteuning] hê, want jy kan nie daarsonder nie.”

As ’n mens se kop reg is, is dinge soveel makliker om deur te maak “en dit maak dit soveel makliker vir die mense om jou”, voeg sy by.

“Dit bly egter ’n emosionele ervaring. Jy dink dadelik aan die kinders en familie; jy wil hulle nie laat ly nie.”

Sy bieg dat sy deur die mastektomie, die chemo en die bestraling net wou weet wanneer sy weer kon fiets ry.

“Ek onthou ek het eendag by my dokter gesit en hom gevra, want ek wou so graag die Double Century (padfietswedren van 202 km van Swellendam oor Barrydale, Montagu, Robertson en Bonnievale terug tot in Swellendam) doen, want ek doen dit altyd, en hy het my so gekyk en gesê as ek dit gaan doen, gaan hy dit ook doen. Maar so tussendeur die chemo en bestralingsessies het ek besluit ek wil ’n all-girls-span begin en die wedren as ’n bewusmakingsprojek hanteer.”

Martie het uitgereik na almal wat saam met haar gaan sit het terwyl sy chemo of bestraling ontvang het en almal het ingestem om dit saam met haar aan te pan en die Pienk-span het só tot stand gekom. Drie borskanker-oorlewendes was lid van die span.

“Die boodskap wat ons wil oordra, is dat borskanker nie die einde van die wêreld is nie. Indien iemand nou deur die behandeling gaan, besef dit is net tydelik. Dit sal verbygaan, maar bly positief, eet gesond en oefen matig.”

Sy voeg by: “Ek dink ek was regtig baie geseënd met my wonderlike familie en vriende en baie genade van Bo deur die hele proses. Ons gaan steeds voort om bewustheid met ons fietsry te skep, want dit is ons passie. Ons sal dus aan verskeie wedrenne deur die jaar deelneem.”

Martie sê ook enigiemand wat moedeloos voel en tans deur so iets gaan, is meer as welkom om haar op te soek vir moed en ondersteuning. Die vroue het hul eie Facebook-groep gestig – Our Own Breast Cancer Awareness Drive – en Martie kan deur dié blad gekontak word.

“Ek wil graag ook ’n groot dankie sê aan al ons borge wat ons gehelp het – Kankersorg Suid-Afrika, Winelands-radiologie, Dragonfly Cycling, BMT, Asla, I luv Boobies en Azure Refrigeration.”

Martie het haar bestralingsessies in April voltooi en op 24 November het sy en haar spanmaats die Coronation Double Century voltooi.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak DistriksPos Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.