Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Kers lei moontlik tot brand

’n Donker wolk hang oor die Macas­sar-gemeenskap nadat twee mense se lewe in afson­der­­like tragedies kortgeknip is.

Die gemeenskap betreur die verlies van ’n 22-jarige vrou wat in een van verskeie brande wat binne die bestek van dae uitge­breek het, dood is. Te midde van die swart tydperk van brande het die gemeenskap ook ’n kind in ’n ongeluk aan die dood afgestaan (lees die berig op bladsy 4).

Stephanie Sannin Filander het ’n vlamme­dood gesterf toe ’n brand Donderdag 5 November in die vroeë oggendure by haar tuiste in Nandinastraat, Bell Glen, uitgebreek het. Die 22-jarige het na bewe­ring met haar selfoon aan die slaap ge­raak toe die brand glo in haar slaapkamer ontstaan het.

Haar buurman, Donavan Gabonie (35), het vertel van die tragiese huisbrand wat sy vriendin, wat hy sedert 12-jarige ouder­dom goed ken, geëis het. Stephanie was een van vier wat tuis was – sy, haar suster (30), haar negejarige seuntjie en ’n vriend.

Gabonie is ná 02:00 deur gemeenskaps­lede wakker geklop met die nuus dat rook uit die woning trek.

“Niemand in die huis was eens bewus van die brand nie. Ons het die voordeur afgeskop en daarin geslaag om haar suster en die seuntjie uit die vlammehel te red. Die vlamme en rook was so erg dat ons nie by die vriend kon uitkom nie; hy het gevolglik by ’n venster uitgespring en só van die vlamme ontsnap,” het Gabonie vertel.

Hy het gesê hulle het met water gepoog om die vlamme, wat reeds dakhoogte was, te blus. Dit was nog voordat polisielede op die voorval gereageer en die brand­weerdienste ontbied het.

Volgens Gabonie het Stephanie glo weens rookinaseming beswyk, want sy is op die bed waar sy aan die slaap geraak het, aangetref. “Ons het die kamer met emmers vol water binnegehardloop. Iemand het te midde van pogings om die brand te blus, besef dat hy vlamme op haar liggaam probeer doodgooi het. Hy het weggehardloop en is steeds weg.”

Gabonie het gesê Stephanie het kort voor die brand die voordeur agter haar ma, wat by ’n familielid oorkant die pad tuisgegaan het, gesluit. Haar ma se laaste woorde aan haar was dat sy die kers wat in haar kamer gebrand het, moet uit­blaas. Volgens Gabonie word dit vermoed die kers het omgeval terwyl Stephanie ge­slaap het. Hy het gesê sy het vermoedelik met haar selfoon aan die slaap geraak, want vriende het gesê sy het nog ná 01:00 op WhatsApp met hulle gesels.

Jermaine Carelse, woordvoerder van die Stad Kaapstad se brandweer- en reddings­dienste, het bevestig die brandweer het om 02:40 op die huisbrand in Nadinastraat gereageer. Met hul aankoms was die slaapkamer waar die brand uitgebreek het, vernietig en die liggaam van die oorledene langs die bed aangetref. Die brand is teen 03:30 geblus.

Volgens ’n Macassar-polisiewoord­voerder is ’n geregtelike doodsondersoek geopen. Die woordvoerder het bygevoeg dat Filander op die toneel beswyk het en omstandighede oor haar dood deel van die ondersoek vorm.

Gabonie het sy skok ná die voorval uitgespreek en gesê “alles voel nog só onwerklik”. Die buurman het vertel dat hy die familie gehelp het met restourasie van die huis en het reeds die huis ná die brand uitgeverf.

Gabonie het bygesê hy voel verplig om Filander se familie te help omdat hulle dit nie breed het nie, en hy deur haar pa op sy sterfbed ongeveer 16 jaar gelede gevra is om ’n ogie oor hulle te hou.

Volgens Gabonie wag die familie op die uitslae van DNS-toetse in die uitkennings­proses om met begrafnisreëlings te begin.

Hy het soete herinneringe van Filander gedeel en gesê dat sy onthou sal word as die jongeling wat vir byna almal in hul straat huistakies verrig het.

V Enigiemand wat finansiële ondersteuning aan die familie wil bied, kan vir Gabonie by 062 146 2501 bel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak DistriksPos Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.