Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Kinders hier opgehef

Dis ’n skool waar boeliegedrag nie voorkom nie en waar almal jou met jou tekortkominge aanvaar.

Milkwood-leersentrum in die hartjie van Gordonsbaai is só ’n skool – ’n skool waar die kinders mekaar aanvaar, waar onderwysers en ouers ’n noue band het en waar die leerders in ’n veilige omgewing op hul eie tyd kan leer.

Lize Marais, die eienaar van Milkwood-leersentrum, vertel dat sy dié skool vier jaar gelede op die been gebring het. “Wat ons skool so spesiaal maak, is dat ons 25 leerders het van wie 80% leerders met spesiale behoeftes is. Ons het ’n downsindroomseuntjie en baie leerders wat outisties is en ook baie wat aan aandaggebrekshiperaktiwiteit-sindroom (AGHS) ly,” vertel sy.

“Ek het my braaikamer vier jaar gelede ingerig en die skooltjie met vier kinders op die been gebring.”

Lize, wat onderwys by Wellington-onderwyskollege studeer het, het ’n passie vir kinders wat spesiale aandag nodig het. “Ek het vier jaar onderwys by De la Bat-skool vir dowes gegee. Dáár het ek geleer hoe om met gebaretaal te kommunikeer en ook hoe om geduldig te wees.”

Nadat sy by De la Bat-skool was, het sy by El Marine Primêr skoolgehou, waar sy die eerste keer in haar loopbaan met ’n outistiese kind te doen gehad het.

“Ek het so baie geleer en die uitdaging om dié kind te help, met passie getakel. Dit was ’n wonderlike leerskool en vandag kan ek met vrymoedigheid sê as dit nie vir daardie outistiese kind was nie, sou ek nooit my eie skooltjie op die been gebring het nie.”

Die leerders en onderwysers groet ’n mens met die intrapslag by die skool entoesiasties. Volgens een van die onderwysers by die Milkwood-leersentrum is nie een dag dieselfde nie. “Dit is ’n heerlike atmosfeer om in te werk. Ons is soos een groot familie. Elke dag is anders en het sy eie uitdagings, maar dit is lekker om met die kinders en hul ouers te werk,” vertel sy.

’n Ander onderwyseres beaam dit: “Om by Milkwood te werk, hou jou nederig en plat op die aarde. Dis die eerlikste kinders om mee te werk en hulle sal jou vinnig oor die vingers tik as jy dalk nie optree soos hulle verwag nie of as jy iets aan het waarvan hulle nie hou nie.”

Lize vertel dat hulle die Kurrikulum-en-assesseringsbeleidsverklaring (Caps) gebruik, maar fokus ook op Singapoer-wiskunde.

“Singapoer-styl wiskunde is ’n onderrigmetode wat in 1982 in Singapoer ontwikkel is. Hierdie metode fokus op die ontwikkeling van ’n begrip van die konsepte voordat jy selfs die prosedures onderrig. Dit bestaan ??uit die gebruik van jou hande en visuele hulp om wiskunde te onderrig en beklemtoon ’n sterk idee van getalle en probleemoplossing,” verduidelik Lize.

“Dit is die ideale manier om wiskunde aan kinders met spesiale behoeftes te verduidelik.”

Lize lag as sy vertel van hoe die kinders haar dag vir haar beplan. “Ek kom soggens skool toe nadat ek en die res van die onderwysers ons week beplan het. Maar as ek die oggend daar instap, besef ek vandag moet ek al my planne laat vaar en luister wat die kinders wil hê. Dit help nie jy probeer hulle iets leer as hulle nie die dag lus is om daaraan aandag te gee nie.”

Volgens Lize leer die kinders graag deur musiek en kuns. “Dis maar van die maniere hoe jy kinders met spesiale behoeftes kan stimuleer. Hulle is uniek en elkeen moet anders hanteer word. Elkeen het sy eie behoeftes en dit is iets wat jy as onderwyser moet respekteer.”

Vir Lize en haar onderwysers is een van hul hoogtepunte om te sien hoe die kinders vordering maak. “Ons sien elke dag hoe van die leerders, wat nie voorheen kon lees of praat nie, vordering maak. Dit is vir ons ’n wow-oomblik, dan juig ons almal en is saam met die ouers bly.”

Lize se toekomsdroom is dat haar skool moet uitbrei en dat sy meer vir die kinders met spesiale behoeftes wil doen.

“Daar is ’n groot behoefte aan skole soos Milkwood. Ons stap rêrig die ekstra myl vir die leerders en ouers. Vir ons gaan dit oor die kinders en oor hul vordering.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak DistriksPos Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.