Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Koevoetrowers slaan toe op motorverkoopman se huis

’n Jong vrou en ’n huishulp is Maandag (28 Oktober) helderoordag deur gewapende rowers in ’n woning in Strand aangehou.

Twee rowers, waarvan een met ’n vuurwapen gewapen was, het kort voor middagete by die woning in Roelofsestraat toegeslaan.

Die roofslagoffers het ongedeerd daarvan afgekom.

Volgens ’n woordvoerder van die Strand-polisie het die voorval omstreeks 13:20 plaasgevind. Die huishulp, ’n 34-jarige Zimbabwiese vrou, het na bewering die deurklokkie hoor lui en toe sy daarop reageer, niemand buite gewaar nie. Later het sy glo ’n vreemde krapgeluid by die voordeur gehoor en toe sy ondersoek gaan instel, twee onbekende mans aangetref wat die deur met ’n koevoet probeer oopdwing.

“Sy het haar na bewering na die slaapkamer gehaas waar die huiseienaar se dogter gelê en slaap het om haar in te lig oor wat aan die gebeur is toe die mans inkom en hulle in die kamer vaskeer,” het die polisiewoordvoerder gesê.

Na bewering het indringers die vuurwapen op die vroue gerig en hulle in die sitkamer aangehou en herhaaldelik gevra waar die kluis is voordat hulle dit in ’n slaapkamer gevind het en uit ’n kas gebreek het.

Die rowers het na bewering ’n vuurwapen, ’n Astra 7.65 met twee magasyne en 18 patrone, asook ’n onbekende bedrag geld uit die kluis gebuit.

Die huiseienaar, wat as motor­verkoopman van die huis af werk, het glo vroeër die dag R45 000, wat in die kluis gebêre was, gaan bank, het die polisiewoordvoerder gesê.

Terwyl die ’n gewapende rower die vroue dopgehou het, het die ander een die huis deurgesoek.

Die rowers het, onder andere met die kluisinhoud, twee televisieskerms en drie selfone in ’n silwerkleurige Volkswagen Polo gevlug. Die polisie het probeer om die mans deur die selfone op te spoor, maar die SIM-kaarte is in ’n nabygeleë straat op hul roete verwyder.

Die polisie ondersoek ’n saak van huisroof. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Ten spyte van talle pogings, kon DistriksPos nie met die gesin in aanraking kom nie. Die koerant het wel daarin geslaag om telefonies met die huishulp in verbinding te tree. Sy het egter verkies om nie sonder haar werkgewer se toestemming kommentaar oor die voorval te lewer nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak DistriksPos Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.