Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
‘Leier en legende’ se stem nou stil

’n Welbekende en geliefde skoolhoof van Grabouw is Vrydagaand (3 Mei) net voor middernag ná ’n kort siekbed in Mediclinic Vergelegen in Somerset-Wes oorlede.

Sy skielike dood laat ’n groot leemte in die skoolgemeenskap waar hy kinders en volwassenes se lewe positief geraak het.

Anthony Hess (58) was hoof van Groenberg Sekondêre Skool. Hy was vir baie leerlinge ’n inspirasie en die “Anker van Groenberg”.

Dié wat hom goed geken het, sê hy het diep spore getrap en ’n verskil in ander se lewe gemaak.

“Baie het hom geken as Chief, veral in rugbykringe. Hy het ’n sterk persoonlikheid gehad en was ’n rolmodel vir baie,” sê sy seun, Jaen Hess.

Volgens Jaen het sy pa in 1984 by die skool begin werk. Hy is in 1998 as skoolhoof aangestel. “Hy was ’n mentor en leier vir baie hoofde en leiers in die gemeenskap.”

Sy passie was onderwys en kinders. “Meneer Hess het vir onderwys geleef. Hy was ’n sterk leier en het empatie gehad vir almal,” sê Jeremy Adams, adjunkhoof van Groenberg Sekondêr.

Hess het in sy 21 jaar as skoolhoof diep spore getrap en kollegas is dit eens dat veral sy leierskap en liefde vir sy medemens uitgestaan het en hom uniek gemaak het.

“Meneer Hess is oraloor geken as ’n bewaarder van dissipline. Hy was ’n mens wat ander se belange beskerm en op die hart gedra het. Hy het vas geglo dat elkeen ’n tweede kans in die lewe verdien,” sê Adams.

Hy was ook bekend vir sy sin vir humor en volgehoue bystand in enige situasie. “Hy was lief om die personeel te terg en dan stilletjies daaroor te lag.”

Adams sê sy kollega en boesemvriend het almal geken en almal dieselfde hanteer, ongeag die persoon se agtergrond.

Hy het die vermoë gehad om onderwysers se potensiaal te sien, te identifiseer en te ontwikkel.

Hess het altyd seker gemaak dat almal die geleentheid kry om aan sport deel te neem.

Hy was ook lank lid van die uitvoerende bestuur van die Boland-rugbyunie en was ’n rugbyadministrateur van formaat. Hy was tot met sy dood eerstespanbestuurder en adviseur vir Safcol-rugbyklub.

’n Inskrywing, getiteld “The Chief is called home”, op dié klub se Facebookblad beskryf hom as ’n “ware leier en legende in die gemeenskap”.

Villagers Worcester het geskryf: “Ons sal hom ook onthou as ons gasspreker by Villagers Worcester se 2017-jaareindfunksie in die Worcester-stadsaal waar hy ’n roerende motiveringspraatjie gelewer het. Mag God julle vertroos.”

Verskeie skole het op Facebook hul medelye betuig. Swellendam Sekondêre Skool skryf: “Boodskap van bemoediging . . . Onthou, dieselfde Here wat die wond geslaan het, sal dit op sy tyd genees. Ons innige simpatie en meegevoel word opreg aan u oorgedra.”

Hoërskool Grabouw skryf: “Ons weet net God self kan in hierdie tyd vertroosting bring. Rus in vrede, ons Mentor.”

V Hy laat sy vrou, Chrizelda, en vier kinders, Jaen (32), Oriel (29), Arian (6), Ethan (11) en sy kleindogter, Scarlet (6), agter. Die begrafnis is Saterdag 11 Mei om 10:00 uit die St. Peters Anglikaanse Kerk in Botrivier.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak DistriksPos Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.