Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Ma se hart stukkend ná verdrinking

’n Hartsmens wat niemand onge­lukkig wou sien nie. ’n Voorbeeldige jongman wat nie sy geloof of karakter vir enigiets sou opgeoffer het nie.

Só word die geliefde Lundi Pretorius deur familie en vriende onthou.

Dié 20-jarige is tragies dood toe hy op Nuwejaarsdag by Bettysbaai se hoofstrand verdrink het. Lundi het sonder om te aarsel die see getrotseer om sy tweelingbroer, Zandi, wat in die moeilikheid beland het, te help. Die dapper broer is met die reddingspoging deur ’n groot brander getref en het in onstuimige waters verdwyn. Die twee­lingbroers was deel van ’n groep vriende wat op ’n uitstappie by die see was.

Lundi en Zandi sou in Junie vanjaar hul mondigwording gevier het.

Volgens ’n persverklaring wat deur die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) uitgereik is, het reddings­personeel Woensdag (1 Januarie) om 15:26 op die voorval gereageer. Nooddienste en die polisie het ook op die voorval gereageer.

“Met ons aankoms het ons drie private dokters, wat daar met vakansie was, op die toneel aangetref waar hulle kardiopulmonêre resussitasie (CPR) op die 20-jarige man van Strand toegepas het. Die jongman is deur ’n barmhartige samaritaan uit die water gered nadat hy na bewering deur ’n stroom meege­sleur is. Personeel van die NSRI en paramedici het hulle by die dokters aangesluit, maar ongelukkig is hy dood verklaar,” het die NSRI-stasiebevelvoerder van Kleinmond, Schalk Boonzaier, gesê.

Die polisie het met ’n geregtelike doods­ondersoek begin.

Boonzaier het namens alle nooddienste hul medelye met die familie en vriende van die oorledene betuig.

Die tweeling se ma, Edith Jansen, het vertel dat sy haar seun die laaste keer lewend gesien het toe sy die tweeling­broers kort voor die middaguur by ’n vriendin se woning in Somerset-Wes afgelaai het. Volgens haar sou die sibbe daarvandaan saam met hul vriende na die strand vertrek het.

’n Familievriend het Edith ná 16:00 die noodlottige dag vertel van Lundi se dood.

“Lundi het sonder om twee keer te dink sy lewe op die spel geplaas om Zandi te red. Boonop weet ek wie en wat my kind was; hy het gelewe en gewerk vir die Here en is huis toe geroep. Dít gee my vrede,” het sy gesê.

Edith verwerk ’n dubbele verlies. Sy is ook die suster van Margaret Linders, wie se lewelose liggaam meer as ’n jaar gelede vasgebind in haar tuinwoonstel aangetref is. DistriksPos het voorheen berig dat skok en ongeloof geheers het ná die moord en huisroof in Oktober verlede jaar in die rustige Twin Palms-woonbuurt (“Familie sukkel steeds met verlies”, DistriksPos, 28 Oktober).

Dié 59-jarige se lyk is ná ’n inbraak by haar woning gevind. Die slagoffer het jare lank by ’n bejaarde vrou in ’n tuin­woon­stel geloseer.

Brian Karelse (52) van Macassar is in verband met die moord in hegtenis geneem en 1 April verlede jaar aange­kla. Die moordsaak sal na verwagting van 7 tot 28 Maart in die Wes-Kaapse hooggeregshof duur.

Edith het voorts vertel dat sy met trots kan sê dat haar voorbeeldige twee seuns haar nooit probleme gegee het nie. “As ouer het ek geskel oor skottel­goed was en bed opmaak, maar nooit oor hul doen en late nie. Hulle het geweet hoe om verantwoordelik en selfstandig op te tree.”

’n Blink toekoms het vir Lundi en Zandi as modelle gewink. Hulle het ook saam as baristas by ’n plaaslike koffiewinkel gewerk.

Edith het bygevoeg dat haar tweelingseuns alles saam gedoen het en vertel dat Lundi by geboorte gesukkel het om asem te haal totdat hy saam met Zandi in ’n broeikas geplaas is.

“Zandi bly sterk en ons verwerk saam die verlies.”

Edith het Lundi beskryf as iemand wat die kollig geniet het en altyd die middelpunt van aandag wou wees. Sy het bygevoeg dat sy met die same­stelling van ’n skyfievertoning vir sy gedenkdiens besef het hoeveel foto’s Lundi gehad het. Volgens haar was hy ’n ware mensemens.

“Hy was my hartsmens en blomme­kind en hy wou niemand met ’n lang gesig sien nie. Ek verlang baie na hom en hy word verskriklik gemis,” het sy gesê.

’n Familievriend, Angus Hartley, het gesê: “Lundi never compromised his faith, character or what he stood for for anything or anyone. This was his greatest charateristic.”

Hy het ook die dokters Grundill en Taillard wat probeer het om Lundi te red, asook die polisielede, sers. Hearne, konst. Mpisane, sers. Rudman en AO Grové en forensies vir hul uitstekende diens en ondersteuning bedank.

Bernard Simons, hoof van die Hoërskool Gordon waar Lundi en sy broer gematrikuleer het, het in die lig van die “skokkende en tragiese” verlies gesê: “Lundi was ’n voorbeeldige leerder en jongman. Op skool was hy altyd ’n plesier, het altyd ’n glimlag op sy gesig gehad en nooit enige dissiplinêre probleme veroorsaak nie. Hy was ’n aanwins vir ons skool; hy het akade­mies goed presteer en het uitgeblink. Hy was ’n voorbeeld vir talle ander. Hy het nog verlede jaar as deel van ’n kerk-uitreikprogram vir jeugdiges besoek aan die skool afgelê waar hy in ’n toespraak leerders bemoedig het om verantwoor­delik te wees en God die stuurman van jou lewe te maak. Hy het ook onderwysers uitgesonder en hulle bedank vir die rol wat hulle in sy lewe en ander s’n gespeel het.”

Lundi word oorleef deur sy ma, Edith, tweelingbroer Zandi en hul niggie wat saam met hulle woon en soos ’n suster was, Alwida Faviers.

’n Roudiens vir Lundi word vanaand (Donderdag) 19:00 by Hillsong Somerset-Wes gehou. ’n Gedenkdiens vind Saterdag (11 Januarie) by Dr. G.J. Joubert Primêre Skool plaas. Die besigtiging is 11:00 en die diens 12:00.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak DistriksPos Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.