Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Maak Strand-hoofweg só veiliger

Met die langverwagte modernisering van Hoofweg, Strand, wat tans aandag geniet, het ’n inwoner ’n pleidooi aan die Stad Kaapstad gerig om ook te kyk na maniere om die pad veiliger te maak vir voetgangers en verkeerskalmeringsmaatreëls in te stel om jaagduiwels aan die pen te laat ry.

Jackie Gunter van Strand het vandeesweek in ’n skrywe aan DistriksPos gesê die pad is ’n gevaar vir voetgangers wat dit probeer kruis.

“Ons as voetgangers sukkel tussen 15 en 45 minute lank om oor Hoofweg te kom soos die voertuie partykeer ry. Die meeste mense dink dit is heeldag ’n renbaan en snags het ek al gedink die mense gaan nie by die stasie hul draai kry nie en teen een van die woonstelle oorkant die pad vasry soos hulle jaag. Dit sluit motors en motorfietse in.”

Gunter het gesê terwyl daar nou aan die pad gewerk word, moet daar sommer ’n spoedhobbel of voetoorgang met verkeersligte aangebring word. So kan voetgangers die pad met meer vrymoedigheid en veilig oorsteek.

Wyksraadslid Carl Punt het by navraag gesê hy het reeds die probleem van ’n voetoorgang, veral tussen Strand-stasie en die Strand-munisipale gebou, onder die betrokke departement se aandag gebring.

“Dit word ondersoek en dus verwag ek nog terugvoering daaroor,” het hy gesê.

Punt sê egter spoedhobbels kan nie in die spesifieke gedeelte aangebring word nie en dat daar dus na ander alternatiewe gekyk moet word.

“Voetgangers kan by die bestaande verkeersligte (Hoofweg en Faganstraat) die pad kruis indien dit nie moontlik is op hierdie spesifieke plek waarna verwys word nie. Ons hoofroetes is besige roetes en enige verandering kan die verkeers­vloei negatief of positief beïnvloed. Dus moet daar eers noukeurige ondersoek gedoen word deur die Stad se ingenieurs wat hiermee werk.”

In reaksie op klagtes oor spoed het Punt gesê: “Die verkeers­departement patrolleer Hoofweg, soos ander roetes, en dus word teen oortreders opgetree.

“Die Stad se verkeersdepartement kan nie 24 uur per dag in Hoofweg wees nie weens ander verpligtinge en ook die grootte van die gebied waarvoor hulle verantwoordelik is.”

Punt meen die verbetering van die pad sal bydra tot beter verkeersvloei, veral as werk in Broadway-boulevard voltooi is.

Hy het die gemeenskap genooi om versoeke vir voetoorgange, spoedhobbels en verkeersligte aan die Stad Kaapstad te rig sodat ondersoek ingestel kan word.

Die verbetering van Hoofweg sluit onder meer in dat die pad ’n nuwe teerblad kry (“Hoofweg kry nuwe baadjie”, DistriksPos, 7 Desember 2017).

Dit kom ná talle klagtes van inwoners wie se motorbande en wieldoppe beskadig is weens die haglike ryoppervlak.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak DistriksPos Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.