Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Macassar-botsing eis ‘liefdevolle’ inwoner

’n Man van Macassar het verlede Woensdagaand sy lewe tragies in ’n botsing verloor.

Gregory Stevens (42) was ’n passasier in ’n motor wat onderweg was na Macassar toe ’n ander voertuig glo teen die motor gebots het.

“Hulle was op pad van Eersterivier se kant af toe hulle by ’n verkeerslig stilgehou en afgedraai het Macassar toe. Gregory was een van drie insittendes in die motor en die enigste wat dood is,” vertel een van Stevens se jare lange vriende, McNeil Meiring.

Die ongeluk het, volgens Meiring, Woensdag 30 Januarie tussen 21:00 en 22:00 gebeur. Die bestuurder van die ander voertuig is glo in hegtenis geneem, maar die Macassar-polisie kon egter teen druktyd nie bereik word vir kommentaar nie.

Volgens Meiring was Stevens een van die liefdevolste mense wat hy geken het.

“Hy het regtig die liefde van Jesus uitgestraal. Hy was medemenslik en het altyd moeilikheid vermy. Hy laat ’n groot leemte in ons vriendekring. Dit voel asof ons ’n broer verloor het, al voel die nuus oor sy sterfte nog so onrealisties vir ons. Ons almal kom al vir baie jare saam – sedert ons tiener­jare – en dit is die eerste keer dat ons op so wyse van een van ons vriende afskeid moes neem,” het Meiring aan DistriksPos gesê.

Hy het ook laat weet dat sowat 300 mense vroeër hierdie week by ’n gedenkdiens vir Stevens opgedaag het.

“Hy was ’n welbekende in Macassar en het gereeld by almal se huise gaan inloer en almal op sy pad altyd gegroet. Mense het Dinsdagaand van heinde en ver gekom om hul ondersteuning te kom toon.”

Stevens het tien jaar as haker vir die Macassar-rugbyklub uitgedraf en daarna was hy steeds ’n ywerige ondersteuner van die klub.

Hy word oorleef deur sy vyfjarige seun, drie broers en sy ma.

’n Begrafnisdiens word vir Saterdag 16 Februarie gereël, maar geen besonderhede is nog in hierdie stadium bekend nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak DistriksPos Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.