Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Macassar-inwoners vies oor Cele toe nie opdaag

Macassar-gemeenskapslede het Dinsdagaand (5 Februarie) bymekaargekom vir ’n vergadering met die minister van polisie, Bheki Cele, maar is in hul spore gestuit toe daar geen teken van die minister was nie.

Die spesiale raadgewer van die minister, Lennit Max, het namens Cele die vergadering bygewoon.

’n Lid van die gemeenskap het die Macassar-gemeenskapspolisiëringsforum van vals reklame beskuldig, waarmee Max saamgestem het.

“Ek het ’n e-pos uitgestuur waarin ek gesê het dat ek verskeie polisiekantore gaan besoek en nêrens het ek genoem dat die minister my gaan vergesel nie,” het Max gesê.

Steeds het die handjievol inwoners die geleentheid gehad om hul misnoeë oor kwessies in die dorp uit te spreek en vrae aan Max te stel.

Een inwoner wou weet waarom personeel steeds ’n probleem by dié polisiekantoor is en waarom sigbare polisiëring in die dorp ’n aaneenlopende probleem is.

“Ons as inwoners is geregtig op be­skerming en veiligheid. Ons menseregte word verkrag omdat ons nie op die polisie kan staatmaak vir hierdie basiese diens wat hulle moet lewer nie. In alle eerlikheid lyk dit asof die enigste inwoners wat beskerming geniet, die dwelmhandelaars is. Ek wil hê ’n taktiese reaksiespan moet hierheen gestuur word om dinge onder beheer te kry,” het die inwoner gesê.

Max het op sy beurt gesê hy verstaan mense se frustrasie oor minimale bemanning van polisiekantore, maar het ook gesê dat dit ’n landwye probleem is en nie net tot die Wes-Kaap beperk is nie.

“Daar is nie een provinsie wat genoeg polisiebeamptes het nie, daar is oral ’n tekort en die feit dat die Wes-Kaap een van die meer uitdagende provinsies is, maak die situasie nog moeiliker.”

Verder het hy gesê die tekort aan personeel moet deur reserviste aangevul word, maar daar is ook te min reserviste in die provinsie.

“In die verlede was daar baie reserviste, maar vandat die vereistes verander het, het die getal gesak na net 7 000 reserviste. Dis iets wat in die verlede só goed gewerk het. Die reserviste het die polisiemag aangevul en gehelp om misdaad te bekamp. Ek is bly die tekort aan reserviste is hiér in Macassar aangemeld. Dit sal onder die minister se aandag gebring word.”

Meer as een inwoner het gesê dis nie maklik om met polisiebeamptes te kommunikeer nie omdat taal ’n probleem is.

“Wanneer ons die polisiekantoor bel om sake aan te meld of selfs na die kantoor toe gaan, is daar beamptes wat ons nie kan verstaan nie. Menige inwoner het al moed opgegee en nie die misdrywe aangemeld nie. Dit is onaanvaarbaar dat daar beamptes is wat nie Afrikaans kan praat nie in ’n oorwegend Afrikaanse dorp,” het die inwoner gesê.

Volgens Max kan die probleem nie ligtelik opgeneem word nie en gaan dit definitief aangepak word.

Inwoners van Sandvlei, wat ook onder die Macassar-polisiëringsgebied val, wou weet waarom hulle nie ’n mobiele eenheid kry nie.

“Dis pikdonker in Sandvlei en dit maak dit soveel makliker om misdrywe in die donker te pleeg. Soveel kere het ek deur my venster gekyk en gesien hoe daar met dwelms handel gedryf word. Dit maak nie saak hoeveel keer ons die polisie bel nie, niemand het nog ooit opgedaag nie. As ons polisiekantoor toe gaan, is die beamptes onwillig om ons te help,” het die inwoner van Sandvlei gesê.

Max en brig. Tania Hosking van die Khayelitsha-kluster, wat ook die vergadering bygewoon het, het met die idee van ’n mobiele eenheid saamgestem.

“Ons is bereid om met die gemeenskap van Sandvlei te werk om hierdie idee te ontwikkel as hulle bereid is om saam met ons te werk,” het die brigadier gesê.

Max het bygevoeg hy weet daar is baie inwoners wat as gevolg van vrot appels in die mag hul vertroue in die polisie verloor het, maar hy is ook bly daar is steeds mense wat die beamptes vertrou en steeds na die polisie gaan vir hulp.

Verder het ’n hele paar Macassar-inwoners gedurende die vergadering genoem dat hulle al menige keer gesien het hoe polisiebeamptes by dwelmhandelaars se hole uithang en dat die verhouding tussen die beamptes en handelaars ’n groot probleem vir die gemeenskap is en tot die wantroue in die polisiëring in Macassar bydra.

Om stappe hierteen te neem, sê Max, het hulle aansienlike bewyse nodig soos foto’s of beeldmateriaal wat wys hoe beamptes op ’n nieamptelike wyse met dwelmhandelaars kommunikeer.

Verskeie mense op die vergadering het hierop gesê dat sulke gevalle al baie aangemeld is, maar dat daar niks van gekom het nie.

Baie het ook gesê hulle is bang om hul stem teen dwelmhandelaars dik te maak omdat polisiebeamptes die handelaars sal waarsku oor sake wat teen hulle geopen is.

“As ’n mens dan ’n saak teen die beamptes aanhangig maak, word jy geteister om die saak terug te trek,” voeg iemand by.

“Dit is dwarsboming van die gereg. Sulke klagtes mag nie ligtelik opgeneem word nie en al kom dit nie altyd aan die lig nie, is lede van die polisie onderhewig aan verhore,” het Max verseker.

Een gemeenskapslid het by Max en Hosking gepleit om net goed te wees vir die gemeenskap. Max het mense verseker dat hy ’n e-pos met alle klagtes aan die provinsiale kommissaris gaan stuur en ook die kwessies sal opvolg.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak DistriksPos Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.