Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Man vas wat huise skelm ‘verkoop’

Die lang arm van die gereg het ’n 40-jarige man wat homself glo as ’n eiendomsagent voorgedoen en talle mense uit duisende rande bedrieg het, ingehaal.

Gavin Snyders het Dinsdag (3 September) op aanklag van bedrog in die Strand-landdroshof verskyn. Snyders is op borgtog van R1 000 vrygelaat nadat die saak tot 26 September uitgestel is.

Snyders se hofverskyning volg nadat hy Vrydag 23 Augustus in hegtenis geneem is.

’n Woordvoerder van die Gordonsbaai-polisie sê die vermeende bedrieër is by sy ma se huis in Macassar aangekeer nadat die polisie maande lank in verband met twee onderskeidelike sake wat by die Gordonsbaai- en Strand-polisie aangemeld is, na hom gesoek het.

Snyders is van bedrog aangekla en het Maandag 26 Augustus die eerste keer in die hof verskyn.

Die Somerset-Wes-polisie het bevestig dat hulle nog ’n saak van bedrog teen Snyders ondersoek, maar hy is nog nie aangekla nie.

Twee plaaslike inwoners wat na bewering in Snyders se strik geval het, het vandeesweek daaroor uitgepraat.

Volgens Jo-anne “Olivia” Allies (40) van Strand het Snyders glo haar en haar eggenoot uit byna R29 000 gekul. Allies het vertel dat sy met Snyders kontak gemaak nadat die huis wat sy in Broadlands Village gehuur het, in Augustus verkoop is. Sy het verder verduidelik dat die eggenote van die eienaar die huis ná sy sterfte in April op die mark geplaas het.

“Ek was dringend op soek na ’n ander blyplek en het met die hulp van die oorlede eienaar se vrou verskeie nommers gebel. Ek het in September verlede jaar met Gavin kontak gemaak. Hy het in ’n telefoniese gesprek aan my verduidelik hoe die proses werk. Ek was bewus van die gevare en was aanvanklik skepties, maar hy was baie nice,” het Allies vertel.

“Ek het sommer daardie dag nog op sy versoek ’n ‘administratiewe fooi’ van R4 200 aan hom oorbetaal. Die volgende dag het ons persoonlik ontmoet en hy het voorgestel ons moet liewer die roete van huur-om-te-koop volg. Ons het ingestem en in die proses gereeld geld aan hom oorbetaal, want alles het wettig en legit voorgekom.”

Allies het verduidelik dat hulle nooit onraad vermoed het nie, want Snyders het selfs papierwerk gehad, waaronder ’n dokument met ’n briefhoof van SA Home Loans wat aangedui het dat die egpaar goedgekeuring vir ’n huislening van R750 000 het.

Boonop het die egpaar nie gehuiwer om hul hard verdiende geld vir ’n woning aan hom oor te betaal nie, want hy het, volgens Allies, altyd met transaksies aan hulle gesê: “As ek vra julle moet ’n betaling maak, moenie vrae vra nie, want ek sal nie onnodig van julle geld neem nie”.

Allies het verder gesê Snyders het hulle na verskeie huise geneem, maar hulle nooit toegang gebied nie.

“As ons hom gevra het waarom ons nie kon ingaan nie, het hy gesê dis invation of privacy,” het Allies gesê.

Maar vir Allies was iets net nie pluis toe hulle in November die huis van hul keuse besoek het en steeds nie kon ingaan nie – selfs nadat hulle R750 aan Snyders vir die sleutels van die huis oorbetaal het.

“Ek het op ’n dag tot by die huis gegaan en aan die deur geklop. ’n Man het oopgemaak en my op my navraag meegedeel dat hy die eienaar van die huis is en dat sy huis nie te koop is nie.”

Volgens Allies het die huiseienaar, wat ’n metropolisiebeampte is, Snyders se kontakbesonderhede geneem en hom gekonfronteer. Nadat Snyders glo in ’n telefoniese gesprek ontken het dat hy die huis aan die egpaar wil verkoop en dat hulle hom al R28 730 in die proses betaal het, het die huiseienaar aanbeveel dat Allies ’n saak by die polisiekantoor aanhangig maak.

Allies het 21 Desember ’n klag van bedrog by die Gordonsbaai-polisie teen Snyders aanhangig gemaak.

“Ons het steeds gehoop dat hy nie lieg nie. My man het oomblikke voordat ek die saak teen hom gemaak het, ’n boodskap aan hom gestuur en verwittig van die aksie wat ek gaan neem. Hy het toe aan my man gesê: ‘Dis reg so, laat sy polisie toe gaan, maar ek sal vir julle ’n huis kry’. Selfs in Januarie het hy nog probeer om geld uit ons te kry om glo ’n trust te stig waarin die huis geplaas sou word.

“Nadat ek hom gedreig het om koerante toe te gaan en hom te expose, het hy met my gereël om die geld af te betaal. Hy het gevra dat ek hom kans moet gee tot 15 Julie dan gee hy my R3 000 en rente. My woorde aan hom was dat ek niks meer as die R28 000 wat hy my skuld, wil hê nie. Van die bedrag wat hy my skuld, het hy slegs R1 000 aan my terugbetaal. Hierna kon ons hom nie meer telefonies bereik nie en hy het spoorloos verdwyn.”

Volgens Allies het sy en haar gesin die ergste Kersseisoen nog deurgemaak en ’n duur les geleer.

“Ons het partykeer ons salarisse saamgegooi en as dit nie genoeg was nie, het my man geld by sy werkgewer geleen – geld wat ons eers verlede maand terugbetaal het,” het Allies, wat tans ’n huis in Broadlands Village huur, gesê.

Snyders het na bewering ook ’n 30-jarige enkelma van drie ingeloop.

Dié vrou, ook ’n inwoner van Strand, was op soek na ’n huis om te huur en het met behulp van haar werkgewer van Snyders se dienste as “eiendomsagent” gebruik gemaak.

“Hy het altyd by my werksplek – wat om die draai van sy kantoor in die Victoria-sentrum was – ingeloer en soos ’n opregte sakeman voorgekom,” het die vrou gesê.

Soos voorgestel deur Snyders, het sy glo ’n aansoek vir huur-om-te-koop in September voltooi en uit onkunde altesaam R10 100 aan hom oorbetaal “om alles uit te sorteer”.

“As enkelouer, wat kinders in ’n agterplaaswoning grootmaak, het die opgewondenheid oor die gedagte dat ek ’n plekkie van my eie sou hê al die ander gevoelens oorheers. Nadat ek die eerste R4 400 betaal het, het ek gevoel ek kan nie nou kop uittrek nie,” het die vrou, wat al haar spaargeld asook geld wat sy geleen het in die hoop vir ’n huis aan Snyders gegee het, gesê.

Sy het voorts vertel dat Snyders haar verskeie huise gaan wys het en, net soos in Allies se geval, kon hulle nooit die huise binnegaan nie. Die inwoner het agterdogtig geraak toe hulle met ’n besoek aan die huis waarvoor sy aansoek gedoen het, bordjies van ander eiendomsagente buite op die perseel gesien het. Boonop was daar mense wat opknapwerkies gedoen het, wat sy aangeneem het ter voorbereiding van haar was.

“Ek het een aand verbygery en foto’s van die bordjies geneem. Die volgende dag het my werkgewer die kontaknommer geskakel en hy is toe meegedeel dat dit private eiendom is,” het die inwoner gesê.

“Jy doen dit nie aan mense nie. Ek wil nie juis hê hy moet tronk toe gaan nie. Die kanse is skraal, maar my begeerte is dat hy my geld sal teruggee.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak DistriksPos Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.