Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Netbal gee haar hoop vir toekoms

As ’n gr. 8-leerder het mense vir haar gelag toe sy hulle vertel dat sy eendag haar eie netbal-akademie gaan begin. Tóé het sy haarself belowe dat sy hulle verkeerd gaan bewys.

Dis nou drie jaar nadat sy Netball Goal Getters-akademie in die Helder­berg op die been gebring het en Lu-Handri Fourie wil nog veel meer bereik deur middel van die afrigting.

Oor die afgelope drie jaar het dié Strand-inwoner die sport aan talle jong meisies van die streek bekendgestel en die sakeonderneming het sy vlerke gesprei deur takke in ander dele van die land te open.

Lu-Handri, of Lulu soos sy alom­be­kend is, het van kleins af ’n liefde en passie vir netbal. Sy is in Kuruman in die Noord-Kaap gebore en het haar skoolloopbaan in Klerksdorp voltooi. Die kranige netbalspeler het in haar skooljare gedroom om professio­neel te speel en het op skool al in netbal uitgeblink.

Die 25-jarige vertel dat netbal haar die geleentheid gebied het om te droom en haar ’n uitweg gegee om van haar omstandighede by te huis te vlug.

“Ek ken van swaarkry; ons het maar sleg grootgeword,” sê Lulu. “Netbal het my deur daardie dae gered en my hoop gegee. My skoolafrigter, juffrou Van der Walt, was ’n regte rolmodel en het in my vermoëns geglo. Sy was ook die persoon wat my eerste tekkies gekoop het.”

Ná skool het sy by ’n rekenaar­opleiding­onderneming, Stimu-Zone, in Rustenburg aangesluit en vinnig opgang dáár gemaak en as streekbestuurder van dié maatskappy na die Helderberg verhuis. Maar haar liefde vir netbal en haar droom om ’n akademie te begin het altyd by haar gespook; ná vier jaar by die maatskappy het sy in 2016 besluit om, met die ondersteuning van Stimu-Zone se Ineke Pretorius en eienaar van die Cape Café in Strand, Fani van Wyk, haar drome na te streef en die akademie te stig.

“Ek het die eerste skooltjie, Puddleduck-dagsorgsentrum in Somerset-Wes, genader en daar met slegs sewe kinders begin,” onthou Lulu. “Dit het maar moeilik gegaan en ek het baie terugvoering en kritiek van die skoolhoof gekry, maar dit het my en die onderneming net sterker gemaak.

“Aan die begin van die nuwe skoolkwartaal het ek besluit om die maandelikse geld te verminder en daar was onmiddellik meer belangstelling; ons het van sewe na 60 kinders by ’n hele paar skole in die Kom gegroei.”

Vir ’n minimale maandelikse bedrag besoek Lulu nou een keer ’n week 18 skole in die Helderberg om basiese netbalvaardighede aan meisies tussen drie en ses te leer. ’n Sessie by ’n skool duur 30 minute.

Sy leer die entoesiastiese meisies ook meer oor die reëls van die sport en hulle kry die geleentheid om hul slag op die baan te wys. Verder leer sy hulle ook om ’n gesonde leefstyl te hand­haaf. Maar vir Lulu is die afrigting nie al wat betekenisvol is nie; sy is ook vreeslik trots oor die waardes wat die jongspan deur middel van die sessies aanleer.

“Dis vir my baie belangrik om ’n passie vir netbal onder die meisies te kweek,” verduidelik sy. “As deel van die afrigting leer ek hulle ook hoe om as ’n span saam te werk, om mekaar ten alle tye te ondersteun en om nie mekaar te boelie nie. Dis tog te oulik wanneer hulle dié eienskappe op die baan ten toon stel en mekaar deur dik en dun bystaan. Ek voel dan dat ek gewen het en dit gee vir my die bevestiging dat dít wel is waar ek moet wees – om met kinders te werk.”

En natuurlik wil sy ook hê dat die jong netbalspelers hulself ten alle tye moet geniet. Daarom het sy, met die hulp van een van haar groepies, ’n spesiale liedjie en dans ontwerp om elke sessie mee te begin.

“Die kinders geniet dit vreeslik,” sê Lulu. “Die sessies doen ook wonders vir hul selfvertroue en karakter. Baie van hulle is skaam en teruggetrokke wanneer hul by die groep aansluit; hulle is ook huiwerig om aktiwiteite aan te pak. Dan praat ek hulle moed in en sê vir hulle dat hul dit kan doen. Oor ’n paar weke sal jy nie sê dis dieselfde kinders nie, want hulle doen dinge met baie meer selfvertroue.”

Volgens Lulu wil sy die eienskappe aan jong meisies leer omdat haar geloof in haarself en selfvertroue as jongeling deur ander mense afgebreek is. “Ek wil nie hê hulle moet dieselfde ervaar wat ek moes nie,” sê sy. “Ek wil hê hulle moet weet dat mense in hulle glo en dat hulle die potensiaal het om groot hoogtes te bereik. Ek is weens my omstandighede baie dinge ontneem, maar ek het ’n belofte aan myself en God gemaak dat ek daaruit sal styg en ek wil hê al die meisies moet uitstyg.”

Alhoewel Netball Goal Getters ’n sakeonderneming is, is dit vir Lulu maar moeilik om kinders weg te wys wat nie die geld kan betaal nie. Sy glo dit sal haar moontlik later duur te staan kom, maar “ek het net die hart om vir hulle te sê hulle kan nie saam met ons speel nie”.

Vir hierdie rede het sy reeds borg­skappe vir 30 van die meisies gekry en sy probeer om meer ondersteuning van plaaslike sakeondernemings te kry om meer kinders te borg. As deel van die pakket, kry elke kind ’n T-hemp van Netball Goal Getters en Lulu het ook onlangs spesiale balle laat ontwerp wat aan­staan­de jaar in oefensessies gebruik sal word.

Sedert die ontstaan van die akademie is nog takke in ander dele van die land geopen – Paarl, Pretoria, Rustenburg en in die Vrystaat. Deur die akademie hoop Lulu om werk te skep vir jong vroue met ’n passie vir netbal.

“Ek wil regtig ’n verskil met die onderneming maak,” meen Lulu. “Vir my gaan dit nie net om geld maak nie; ek wil hê die sportsoort moet groei en meer meisies die geleentheid bied om daaraan blootgestel te word.”

En oor die laaste vier jaar het die jong sakevrou geslaag om dit te doen. Sy is veral trots op ’n groep spelers van Laerskool Hendrik Louw, wat as kleuters deel was van die program en vanjaar as gr. 1-leerders hul eerste seisoen onoorwonne is.

Einde verlede maand het 60 meisies van die Helderberg en Paarl aan ’n netbaltoernooi by Laerskool Hendrik Louw deelgeneem. Die kinders het die geleentheid só geniet en dis so goed deur die ouers ondersteun dat Lulu besluit het om ’n tweede toernooi aan­staande maand te hou.

“Ek is regtig dankbaar vir al die ondersteuning wat ek van die skole, onderwysers en ouers kry; dis voorwaar vir my ’n riem onder die hart.”

Wat hoop sy om in die nabye toe­koms te bereik? “Ek hoop nog steeds om eendag self op ’n professionele vlak netbal te speel en ek oefen regtig hard om dit te bereik. Vir Netball Goal Getters wil ek graag sien dat die aka­demie sy vlerke sprei en die sport skole in voorheenbenadeelde gemeenskappe neem om daardie meisies ook van jongs af aan netbal bloot te stel.”

V Vir nog inligting oor die Netball Goal Getters-akademie, besoek hul Facebook-blad of www.netballgoalgetters.co.za.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak DistriksPos Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.