Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Pa laat groot leemte

Die naweek het vol belofte voorgelê, maar vir een Strand-inwoner is dit Vrydagoggend kortgeknip.

Nazeem Hardenberg is Vrydag 5 April omstreeks 07:00 deur drie koeëls naby Morkels Cottage in Strand neergevel.

Dié 26-jarige inwoner van Sercorpark en pa van drie word reeds oneindig baie deur sy gesin gemis.

“In my hart voel dit hy is nie dood nie,” het sy stiefma, June Hardenberg, gesê.

Sy het hom van die ouderdom van drie maande grootgemaak en meen dit voel asof sy haar eie bloedkind verloor het. “Sy pa is ook al baie jare gelede weens siekte oorlede en hy was altyd net my kind. Hy was iemand wat met almal ’n geselsie aangeknoop het en selfs waar hy gewerk het, het hy seker gemaak hy laat sy kollegas en hul kliënte met ’n glimlag. Hy was ’n baie liewe mens en het ook goeie verhoudings met sy sibbe gehad, veral sy susters.”

Volgens Hardenberg was Nazeem glo ook ’n lid van ’n motorklub en met klublede se besoek aan haar ná sy dood, kon sy nie help om gebroke en geskok te voel oor hoeveel mense hul medelye betoon het nie.

“Die klublede het almal hier kom sit en dit was vir my net so baie om op daardie oomblik in te neem. Ek het geweet hy het baie vriende, maar dit was vir my hartroerend om te sien hoe baie mense by ons huis ingekom het. Hy het selfs ook grootmense as vriende gehad,” het ’n bedroefde Hardenberg vertel.

“Hier was selfs ’n vrou wat na ons huis gekom het om haar skok met ons mee te deel, het my net ’n drukkie gegee en weer geloop het. Sy was net só hartseer.”

Hardenberg het die oorledene liefdevol Zeempie genoem.

’n Woordvoerder van die Strand-polisie het bevestig Hardenberg is in die bors, arm en middellyf deur koeëls getref.

Volgens ’n betroubare bron is geen van sy besittings in die voorval geneem nie. Sy fiets het eenkant op die toneel gelê.

Die woordvoerder het bygevoeg dat niemand in verband met die moord in hegtenis geneem is nie.

Die familie van die oorledene beplan ’n begrafnisdiens vir Saterdag 20 April aangesien hulle nog wag dat die liggaam vrygestel word.

Hy laat sy stiefma, drie broers, vier susters en drie kinders agter.

V ’n Biduur sal Dinsdag 16 en Donderdag 18 April om 19:00 by die gesinswoning by Anikaslot 74B, Sercorpark gehou word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak DistriksPos Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.