Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Pa sterf ná 2de kar hom tref

’n Voetganger is dood nadat hy deur twee motors in die Strand getref is.

Denzil Hartogh (43), ’n pa van twee kinders, is noodlottig beseer toe ’n vermeende dronkbestuurder van ’n bakkie na bewering in Gordonsbaaiweg op hom en ’n vriend afgepyl het.

Bewerings dat Hartogh op die sypaadjie getref is, kon nie deur polisie bevestig word nie.

Hartogh het glo nadat hy raakgery is in die pad beland en is deur ’n tweede motor getref. Hy het later in die hospitaal aan sy beserings beswyk.

Die vriend, wat ook getref is, het egter die voorval oorleef.

Hartogh se vrou, Janine (46), vertel dat die voorval verlede Sondag (23 September) plaasgevind het toe haar man blykbaar krag by ’n nabygeleë vulstasie gaan koop het.

Sy vermoed die koopkrag het deur die nag uitgeloop.

Die bedroefde eggenoot herroep dat sy en haar man heeldag alleen tuis was en dat sy later ’n macaroni-en-kaas-aandete gemaak het omdat hy daarvoor lus was.

“Ek was moeg en het nadat ek die oorskiet weggesit het vir wanneer hy later dalk weer honger voel, sommer met my klere onder die komberse ingekruip. My dogter het my later wakker gemaak nadat mense glo aan ons voordeur kom klop het met die nuus dat haar pa in ’n ongeluk betrokke was.

“Ek het dadelik opgespring, my tekkies aangetrek en van ons huis in Eerstestraat na die toneel gehardloop,” vertel sy.

Volgens ’n Strand-polisiewoordvoerder is die voorval om 02:26 Sondag aangemeld. Besonderhede oor die voorval is steeds vaag.

“Getuies beweer dat albei voetgangers deur die bakkie getref is. Hulle het glo in die pad beland en ’n Toyota Etios, wat vervoerdienste aanbied en in die rigting van Gordonsbaai beweeg het, het in ’n poging om vir een van die beseerde voetgangers uit te swaai, die ander getref,” sê die polisiewoordvoerder.

Die bestuurder van die bakkie, ’n 36-jarige man van Gordonsbaai, is op aanklag van dronkbestuur in hegtenis geneem. Hy het Dinsdag 25 September op aanklagte van dronkbestuur en strafbare manslag in die Strand-landdroshof verskyn.

Volgens Janine spook terugflitse van die toneel waar haar man weens erge inwendige beserings gelê en na sy asem gesnak het, steeds by haar.

“Ek kon nie glo dis my man, ’n besonder sterk mens, wat daar lê nie. Ek het geweet hy sou dit nie maak nie; hy het net te seer gekry,” sê sy.

Janine voeg by dat haar man onthou sal word as ’n medemenslike persoon wat ander nederigheid geleer het.

’n Begrafnisdiens vir Hartogh sal Saterdag (6 Oktober) 10:00 in die Strand Metodistekerk gehou word. Die besigtiging is om 09:30.

Hartogh word oorleef deur sy ma (62), vrou Janine, seun (19) en dogter (15), en twee susters.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak DistriksPos Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.