Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Reik uit na jongelinge

Die jeug van Macassar sal binnekort ’n plek hê waar hulle oor hul toekoms kan besin.

Adrian Manuel, ’n inwoner van Macassar, is een van ’n groep mans wat besluit het hulle wil iets meer vir die jeug in die omgewing bied. Volgens hom het die idee by Donovan Wenn, die uitvoerende hoof van die projek Macassar Youth With a Purpose (MYWAP), ontstaan toe hy verlede jaar ’n tiener van ’n hoërskool in Macassar besoek het wat met ’n mes aangeval is.

“Toe hy die kind by die huis besoek, het hy besef die kind is alleen saam met sy jonger sussie en die ouers doen elk hul eie ding,” vertel Manuel.

“Daar en dan het hy besluit daar moet iets beter vir die kinders van Macassar wees.”

Manuel sê die lede van die uitvoerende raad van dié projek is reeds sedert verlede Oktober besig om planne te beraam vóór hulle die projek amptelik van stapel gaan stuur.

“Daar is heelwat mense van Macassar wat ons help met die projek. Dit is ook mense wat reeds in hul eie hoedanigheid in die gemeenskap gewerk het en hulle is gretig om saam met ons te werk,” verduidelik Manuel.

“Ons wil regtig net ’n helpende hand wees vir die jeug en hul families, want tans is daar nie so iets in Macassar nie.”

Die uitvoerende raad wil graag meer hulpbronne aan die jeug bekendstel sodat hulle die gepaste beroep kan volg en hul volle potensiaal kan bereik.

MYWAP gaan fokus op gebiede soos kuns en kultuur, sport, loopbaaninligting, opvoeding en welstand in terme van berading en gesondheid.

“Ons wil graag werwingsdienste aanbied vir dié wat werk soek en hulle help met hul CV’s, en dit by die regte persone te kry. Al die dienste wat ons aanbied, is gratis.”

Kandidate wat kwalifiseer om deel van MYWAP te wees, is inwoners van Macassar tusssen 16 en 35 jaar oud. Registrasievorms is beskikbaar by Hawaiistraat 4 in Macassar.

“Ons fokus is vir nou op die tieners, maar ons sal ook binnekort programme vir die laerskoolkinders in die omgewing bied.”

Manuel het verlede week ná die bemarkingsveldtog van die projek gesê die reaksie en terugvoering van die gemeenskap was oorweldigend.

“Ons almal se fone lui onophoudelik en dis almal mense wat meer oor die projek wil weet.”

MYWAP se amptelike opening sal aangekondig word sodra al hul planne gereed is.

Vir nog inligting oor dié projek of oor hoe om betrokke te raak as borg. bel vir Adrian Manuel by 083 563 9120.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak DistriksPos Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.