Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Sir Lowry’s geruk deur verkragting

’n Donker wolk hang oor die gemeenskap van Sir Lowry’s Pass nadat ’n kind die jongste slagoffer van ’n seksuele misdaad geword het en ’n middeljarige inwoner wreed van die lewe ontneem is.

Die polisie het die afgelope Sondag (2 Februarie) op die moord van ’n 44-jarige man en die beweerde verkragting van ’n agtjarige meisie gereageer.

Twee verdagtes is in verband met die afsonderlike voorvalle in hegtenis geneem.

Volgens sers. Suzan Jantjies, ’n polisiewoordvoerder, is polisiebeamptes omstreeks 06:20 Sondagoggend na ’n toneel ontbied waar die lyk van ’n man in ’n oop graf enkele meter van ’n plakkershut naby ’n kruidenierswinkel in Old Sir Lowry’s Pass-pad gevind is.

Jantjies het gesê die gruvonds is deur ’n gemeenskapslid wat die polisie ingelig het, gemaak. Die oorledene is as Ernest Steyn uitgeken.

“Die oorledene het verskeie beserings en wonde aan sy liggaam gehad. Hy is deur nooddienswerkers op die toneel dood verklaar,” het Jantjies gesê.

Sy het bygevoeg ’n 22-jarige verdagte is met behulp van ooggetuies op ’n klag van moord in hegtenis geneem, maar die motief is steeds onbekend.

Die moordverdagte het Maandag (3 Februarie) in die Somerset-Wes-landdroshof verskyn en is op borgtog van R1 000 vrygelaat.

Die saak is tot 2 April uitgestel.

Jantjies het ook bevestig dat ’n klag van verkragting Sondagaand omstreeks 21:40 by die plaaslike polisiekantoor aanhangig gemaak en na die polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinder­beskerming en seksuele misdrywe (GKS) vir verdere ondersoek oorgeplaas is.

Die minderjarige se ma (39) het vertel dat haar babadogtertjie ná 20:00 dié aand huilend by hul tuiste ingehardloop gekom het, gevolg deur ’n buurman wat hulle meegedeel het dat ’n familievriend haar glo molesteer het.

“Ons het in die voorkamer gesit en [sy] het reguit na my niggie, wat op die bank gesit het, gehardloop. Sy het haar vertel wat gebeur het,” het die sigbaar verpletterde ouer van vier gesê.

Volgens haar niggie het die dogtertjie haar glo meegedeel dat die familievriend van haar pa haar na bewering geroep het terwyl sy buite gespeel het en na ’n nabygeleë woning geneem het. “Ons het aanvanklik gedink hy het haar slegs onbehoorlik betas. Sy het ons later meegedeel dat hy haar verkrag het en dit is later met ’n mediese ondersoek bevestig,” het die niggie aangevoer.

Volgens die slagoffer se ma is sy “diep seergemaak” deur die voorval wat oënskynlik haar dogter se wese en persoonlikheid negatief geraak het.

Sy vertel dat haar dogter ’n tipiese agtjarige vol lewenslus was en baie gepraat en gespeel het. Maar, ná die beweerde verkragting deur ’n familievriend van wie hulle dit weens sy “stil aard” nooit verwag het nie, is sy verskriklik stil en teruggetrokke.

Met DistriksPos se besoek aan hul woning was die meisie tuis en sigbaar getraumatiseer.

Die verdagte is glo deur die ouer en ander gemeenskapslede aangekeer en aan die polisie oorhandig. Die 48-jarige buitelander het Woensdag (5 Februarie) op aanklag van verkragting in die Somerset-Wes-landdroshof verskyn. Die saak is uitgestel tot 13 Februarie vir borgtoginligting.

“As dit van my afgehang het, het ek hom vrekgemaak. Maar geregtigheid moet geskied sodat hy tot gevangenisstraf gevonnis kan word en nie weer só iets aan iemand kan doen nie,” het die ouer gesê.

Die ouer het gesê sy weet nie wat die pad vorentoe behels nie, maar haar prioriteit is om haar dogter met liefde en ondersteuning en die hulp van haar sibbe – twee susters (21) en (16) en haar 14-jarige broer – deur die moeilike tyd te help.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak DistriksPos Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.