’n Man is dood en nog een ernstig beseer nadat hulle in twee afsonderlike skietvoorvalle in die kop gewond is.
Die Strand-polisie ondersoek ’n saak van moord nadat ’n 38-jarige man van Broadlandspark verlede Donderdag (24 Oktober) in die buurt doodgeskiet is.
Volgens ’n polisiewoordvoerder het die voorval omstreeks 03:40 in Fernstraat plaasgevind.
Die oorledene, Patrick Ivan Slingers, het saam met twee vriende in die straat geloop toe ’n onbekende man hom nader en van agter in die kop skiet.
Die polisie ondersoek ook ’n saak van poging tot moord ná ’n 24-jarige man verlede Woensdag (23 Oktober) omstreeks 22:30 met ’n kopwond in Serkor-rylaan aangetref is.
“Die slagoffer kon weens sy beserings nie praat nie en is na die hospitaal vervoer,” het die polisiewoordvoerder gesê.
Enigiemand met inligting wat met die ondersoeke kan help, kan lt.-kol. Franklin Plaatjies by 082 469 3359 bel.