Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Staatmaker laat groot leemte

Die Macassar-gemeenskap is weer eens in rou gedompel weens die verlies van ’n raadgewer, kragman, staatmaker en vriend.

Die tragiese dood van ’n patriarg wat “enige donker dag met sy grappies kon ophelder met ’n bewonderenswaardige vermoë om ander te laat lag” het sy familie met groot leemtes in hul lewe en harte gelaat.

Die lewe van Pieter Petrus “Oompie” Stevens is onverwags kortgeknip toe hy verlede Vrydag (19 Junie) in ’n botsing op die N2-snelweg naby die weegbrug tussen Firgrove en Somerset-Wes op slag dood is. Stevens se voertuig het na bewering teen ’n Volkswagen Kombi, wat langs die snelweg afgetrek het, gebots.

Die 66-jarige Stevens is buite sy Tata-voertuig, wat op sy sykant beland het, aangetref.

Sers. Suzan Jantjies, ’n woordvoerder van die Somerset-Wes-polisie, sê lede het Vrydag omstreeks 16:20 op die noodlottige botsing gereageer. Jantjies sê nog ’n botsing het op die ongelukstoneel plaasgevind toe ’n Toyota RunX ’n polisievoertuig en polisielykswa getref het. Die insittendes van die Toyota-motor en nog ’n voertuig wat beskadig is, is vir geringe beserings behandel.

Stevens se seun, Charlton, het in ’n onderhoud aan DistriksPos gesê: “Ons weet nog nie wat tot die ongeluk gelei het nie, maar ek kan wel sê my pa was nie ’n onverskillige bestuurder nie. Daarom glo ek iets moes met hom gebeur het. Hy was juis op pad dokter toe.”

Charlton is die slegte nuus meegedeel en na die toneel ontbied nadat ’n polisiebeampte sy pa se selfoon op die ongelukstoneel gekry en kontak gemaak het met sy neef se vrou op wie se nommer hy afgekom het.

Hy het voorts vertel dat hy sy pa die Woensdagmiddag laas gesien het toe hy by sy kantoor ingeloer het en ’n koppie tee saam met hom geniet het. “Ons het gesels oor ons plan om my ma se tuin klaar te maak. Hy het Vrydag voor die ongeluk by my huis vir my iets by my vrou afgelaai wat my ma gestuur het en vir oulaas vir my dogter ’n bietjie biltong gegee,” het hy herroep.

Toe Charlton op die toneel kom, was sy pa reeds oorlede en ’n “innerlik hartseer en stukkend gevoel” het hom oorval. “Ek het ons Hemelse Vader gevra om my te versterk.”

Volgens die bedroefde seun laat die verlies van sy pa ’n groot leemte in elkeen van hulle se lewe en hart.

“Hy kon enige donker dag ophelder met sy grappies en almal laat lag. Ek dink dis wat ek die meeste van hom gaan mis,” het hy gesê.

“My pa was nie net bloot ’n pa nie, maar ’n geestelike leier en mentor ook. Ek wou altyd soos hy wees; van kleins af het ek dikwels alles wat hy gedoen het, probeer namaak. Hy het my op driejarige ouderdom geleer kerkorrel speel en ek speel vandag nog. Hy het my touwys gemaak oor rekenaars en vandag is ek in die rekenaarbedryf. My pa is my idol, en sal altyd wees.”

Stevens is kort voor sy 67ste verjaardag dood. Hy is op 4 Julie 1953 in Alheit in die Noord-Kaap gebore, maar het nooit matriek geskryf nie. Hy het aanvanklik sy skoolloopbaan by Laerskool Kakamas begin en sy standerd 6-jaar aan die Rooms-Katolieke skool in Keimoes voltooi. Hy het tot in standerd 8 aandklasse by die Hoërskool Macassar gevolg en het op 15-jarige ouderdom by die gebou begin werk. Charlton vertel met trots dat sy pa ’n kursus in rekenaars met ’n fokus op rekeningkunde by Academy of Learning aangepak en met onderskeiding voltooi het. Die kursus het sy belangstelling in rekenaars aangewakker en hy het een aangeskaf om ons daaraan bloot te stel.

“My pa se belangstelling in rekenaars het voorwaar ons almal in die huis help vorentoe beweeg. Ons het rekenaars as bron in ons studies en werk gebruik.”

Charlton het verder vertel sy pa het tot sy sterfte gewerk.

“Hy het altyd grappenderwys gesê hy gaan werk totdat ons hom begrawe omdat hy darem daar betaal word. Want, as hy sou aftree, sal my ma allerhande werkies vir hom uitkrap waarvoor hy geen vergoeding gaan kry nie.”

Hy het aangevoer dat sy pa onthou sal word vir sy sterk geloof in die Here en sy goeie sin vir humor.

Johann Magerman het in ’n Facebook-inskrywing hulde gebring aan Stevens, wat hy sy rolmodel en mentor genoem het. Magerman het hom verder beskryf as ’n nederige mens met ’n omgeehart; ’n Kakamas-boorling wat dinge, gebeure en selfs goed wat slegs in sy kop geleef het, op unieke wyse kon verwoord.

“Uit sy pen het gedigte, dramas, stories en preke gevloei. Ek onthou sy Magnus Opus, [“Die Apartheidsmeisiekind”], die verhaal van die ontstaan en geskiedenis van ons dorp, Macassar. Oompie het hierdie stuk geskryf en so gewerk dat etlike sektore in die produksie verteenwoordig is. Ons was die Comrades en het die skoolsaal in die opvoering aan die brand getoi-toi. Hierdie hoogs oorspronklike werk is met groot applous begroet en drie aande aaneen heeltemal uitverkoop,” lui die huldeblyk.

“Oompie was ’n bobaas-storieverteller. Ons kon letterlik aan sy lippe hang. En ja, ’n mens het dikwels meer as ’n knippie sout nodig gehad as jy na hom geluister het.

“Maar wat ek die meeste sal mis en wat ook die bron van my troos is, is Oompie se geloofslewe. Oompie het ’n diep en lang pad met die Here gestap. Daarvan getuig sy diens as kerkraadslid en as katkisasiemeester. Hy het graag met diepe trots vertel hoedat drie predikante deur sy hande gekom het.

“Hy het in die inperking gereeld sy preke, bemoedigings of sommer net ’n lied aangestuur. Hy het nou onlangs, in April, drie gedigte gestuur wat vir ewig in ’n voice note vasgevang is. Maandag 1 Junie het hy my sy laaste boodskap in die vorm van ’n gebed gestuur: ‘Here, hou U hand op ons tydens hierdie grendeltyd.’

Magerman het verder sy hartseer uitgespreek aan familielede wat “beroof is van hierdie museum, hierdie biblioteek”, maar bygevoeg dat hy hom verheug in die volmaakte werk van die Here, Jesus Christus, by wie Oompie nou veilig rus.

“Vaarwel, go well, hamba kahle, Oompie Petrus,” het hy afgesluit.

’n Verbyry-motoroptog vir Stevens is Dinsdag vroegaand van die VGK in Tweedestraat, Firgrove, tot by sy tuiste in Bellglen gehou. ’n Begrafnisdiens word vir Saterdag (27 Junie) gereël.

Stevens word oorleef deur sy vrou, drie dogters, ’n seun en skoondogter, twee kleindogters, twee susters en die breë Stevens-familie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak DistriksPos Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.