Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Steyn pen sy vierde boek

As hoërskoolleerder het Martin Steyn altyd ’n Stephen King-roman langs sy bed of in sy skooltas gehad. Hy het boek ná boek gelees en het hom in die wêrelde wat die bekende skrywer met woorde geskep het, ingeleef.

King se boeke het nie net dié inwoner van Somerset-Wes se passie en liefde vir boeke gekweek nie, maar dit het ook die moontlikheid om self te skryf in hom aangewakker.

Dekades later is dié 42-jarige self ’n skry­wer, met sy vierde boek, Losprys, wat vandeesmaand bekend gestel word.

“Dis alles Stephen King se skuld,” vertel Steyn. Sy eerste ontmoeting met ’n King-boek was toe hy The Dark Half gelees het.

“Daarna het ek altyd ’n Stephen King-boek gehad. Toe lees ek IT . . . Ek het toe begin dink aan skryf – en nie net skryf nie, ek wou ook my boek publiseer. Ek wou doen wat Stephen King doen.”

Steyn se romanse met skryf het met Engelse kortverhale begin en daarna het hy op gruverhale gefokus. “Ek was van die begin af verlief, al was daardie eerste stories regtig nie goed nie,” vertel hy.

Maar skryf was nooit deel van sy planne nie. Hy wou ’n rekenmeester word en het wel ná matriek in dié rigting ge­studeer, maar ná 18 maande van studie “het ek woorde te veel gemis”. ’n Belang­stelling in reeksmoordenaars het daar­toe gelei dat Steyn sielkunde en krimino­logie aan Unisa studeer en ná hy ’n hon­neursgraad in sielkunde verwerf het, het hy ernstig aan sy eerste misdaadroman begin skryf.

Oor die jare het Steyn verskeie boeke geskryf en van dié boeke het pryse gewen. Hy het ook stories vir kortver­haal­bundels geskryf, onder meer Op Die Spoor wat deur Rudie van Rensburg saamgestel is. Donker Spoor, wat ook in Engels as Dark Traces beskikbaar is en waarvan die vertaalregte vroeër vanjaar deur ’n Turkse uitgewer gekoop is, het in 2015 ’n ATKV-Woordveertjie vir spanningslek­tuur gewen en Skuldig het die volgende jaar dieselfde prys gekry. Swartval is in 2016 bekend gestel.

Losprys is my vierde Afrikaanse boek en is ’n police procedural. Die storie gaan oor ’n tienerseun wat ontvoer en vir ’n losprys aangehou word. Die titel is ’n bietjie generies, maar dit pas regtig goed,” meen Steyn, wat ’n belangstelling in polisieondersoeke toon.

“Ek hou daarvan om met speurders en forensiese deskundiges te praat. Ek pro­beer skryf so realisties as wat ek kan en verkies ook om net uit die polisie se oogpunt te skryf, so die leser volg die ondersoek saam met die speurder en sien en hoor wat die speurder sien en hoor.”

Steyn, wat aan Hoërskool Hottentots-Holland gematrikuleer het, sê sy idee vir sy jongste skepping is gebore uit ’n werklike voorval wat in Kaapstad afgespeel het. “ ’n Tienerseun is deur twee mans ontvoer. Ek het met een van die speurders gepraat wat aan die saak gewerk het. Hy was by toe hulle die seun gekry het,” verduidelik hy.

“Maar alles het eintlik vir my sin gemaak toe ek ’n gyselaaronderhandelaar ontmoet. Die idee om met die onderhandelingsproses te werk was vir my onweerstaanbaar – die sielkunde daarvan. En sover ek weet, was daar nog nooit so ’n fokuspunt in ’n Afrikaanse misdaadroman nie.”

Hy wil nie te veel oor die boek verklap nie, maar sê wel diegene wat die boek, wat deur Lapa-uitgewers gepubliseer is, gaan koop, kan ’n “grinterige, realistiese” misdaadverhaal verwag. “Dit speel af in plekke wat mense van die Kaap ken: Houtbaai, Muizenberg, Mitchell’s Plain, Goodwood, daar is selfs ’n toneel in Somerset-Wes. Die karakters is gewone mense. Ek dink dis ’n goeie storie, maar ek is natuurlik ook die een wat dit geskryf het.”

Vir Steyn is die “heel lekkerste” van die skryfproses wanneer hy vir die eerste keer die gepubliseerde weergawe van ’n boek in sy hande het. Tog het hy met Losprys ook die navorsingsaspek terdeë geniet, want hy het met baie mense gesels. “Die polisievrou wat met vermiste mense in Houtbaai werk, die speurder in Mitchell’s Plain wat my gehelp het met agtergrond vir die karakter en die gyselaaronderhandelaars (een bly in Somerset-Wes) wat my meer vertel het oor hul werk. Dan was daar ook die dinge wat ek gesien het, maar ek wil nie te veel verklap nie.”

V Vir nog inligting, besoek www.martinsteyn.com.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak DistriksPos Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.