Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Stormskade: mense na beter plek geskuif

Die winter het sy kloue die afgelope naweek behoorlik ingeslaan met sneeu wat verskeie bergpieke in die omgewing met ’n wit kombers bedek het.

Swaar reënneerslae het ook broodnodige verligting vir die voortslepende droogte gebring wat al bykans drie jaar, sedert 2015, sy greep op die provinsie het. Dit het ’n goeie styging in damvlakke tot gevolg gehad.

Die Theewaterskloofdam was vroeër vandeesweek 34,7% vol (Maandag 2 Julie) in vergelyking met 19,4% dieselfde tyd verlede jaar.

Die gemiddelde damvlaksyfer vir die Stad Kaapstad staan tans op 48,2% van die bergingsvermoë.

Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens se kantoor in Kaapstad het Strand meer as 54,6 mm reënval tussen Vrydag 29 Junie en Maandag 2 Julie gehad, met 40 mm wat net Sondag geval het.

’n Stormsterkwind wat Sondag teen 60 km/h en Maandag teen 56 km/h gemeet is, het groot verwoesting gesaai.

Die weerkantoor kon egter nie syfers vir die res van die Helderberg verskaf nie.

Verskeie bome is ontwortel, paaie is verspoel en skade is ook in die stormweer aan huise aangerig. ’n Rolbalbaan van die Helderberg-rolbaanklub by Southey’s Vines het oorstroom.

Die klubpresident, David Thies, sê die baan het oorstroom weens ’n verstopte drein wat water oor die Geelslootrivier laat loop het. Hulle was intussen in verbinding met die Stad Kaapstad en werkers het opgedaag om die probleem op te los. Thies sê hulle wag net vir die baan om behoorlik droog te word sodat hulle dit kan skoonmaak, maar meen die baan het geen ernstige skade weens die oorstroming opgedoen nie.

Volgens Charlotte Powell van die Stad Kaapstad se ramprisikobestuur is oorstromings in talle informele nedersettings in Macassar en Strand aangemeld, en is die gebiede deur amptenare geëvalueer. Dit was egter nie nodig om inwoners te ontruim nie.

Intussen het die Stad Kaapstad aangedui dat minstens 109 inwoners van die Nyakathisa- informele nedersetting in Macassar hul informele strukture sal moet afbreek omdat dit te naby aan die oorstromingsvlak opgerig is. Die inwoners sal na ’n tydelike ruimte verskuif word.

Anda Ntsodo, burgemeesterskomiteelid vir die oos-area, het aan die nuuswebwerf News24 gesê die informele nedersetting het oor die jare baie uitgebrei en inwoners het al nader en nader aan die oorstromingsvlak begin bou.

Volgens wyksraadslid Victor Isaacs is die woonplekke tussen die grenslyne van die Stad se grond en die departement van onderwys se grond gebou. Dié gebied is bekend vir sy vleilande.

“Die gevolg is dat die inwoners erg deur die onlangse reën geraak is toe hul huise oorstroom het. Ons het eers gedink ons kan ekstra grond aanry, maar het besef dit gaan nie die probleem oplos nie. Ons kyk nou egter na alternatiewe grond waarheen ons die inwoners kan skuif.”

Isaacs sê hulle wil die inwoners skuif na ’n gebied wat reeds die basiese dienste soos water en elektrisiteit het.

“Hulle sal hul huidige materiaal gebruik om weer hul strukture op te bou maar ons sal help met noodbehuisingsmateriaal indien van hul materiaal in die oorstromings beskadig is.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak DistriksPos Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.