Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Strand besoekers vind hul in die knyp

Die probleme rakende die toeganklikheid van openbare toiletgeriewe op die strand in Kusweg, Strand is weer onder die loep.

’n Inwoner (73) van Gordonsbaai het verlede week met DistriksPos in verbinding getree en haar misnoeë oor die gebrek aan openbare toiletgeriewe in Kusweg uitgespreek.

Die leser sê sy het verlede week ’n vriendin (71) gehad wat by haar kom kuier het. Sy en die vriendin, wat nie in die Helderberg woon nie, het besluit om die oggend omstreeks 11:00 op die strand te gaan stap. Hulle het oorkant die restaurant 99 on Beach stilgehou en tot aan die oorkant van Hibernian Towers gestap toe haar vriendin ’n toilet nodig kry.

“Ons het gesoek, maar kon nêrens naby ’n [openbare] toilet kom nie. Daar was destyds so ’n groot trok-ding met toiletgeriewe, maar dié keer niks.”

Die leser sê dit was baie amper of hulle het dit nie gemaak nie, maar kon darem daarin slaag om tot by die motor te loop en het tot by die groot sirkel in Kusweg gery waar hulle ’n toilet gekry het.

Sy sê hoewel die geriewe mooi en skoon is, is dit skokkend dat geen toiletgeriewe oor dié hele afstand tot strandlopers se beskikking is nie.

“Die volgende een sit reg onder in Kusweg.”

Carl Punt, die wyk 83-raadslid wat vir ’n gedeelte van Kusweg verantwoordelik is, sê Wyk 83 het vier permanente geriewe. Volgens hom is een naby die sirkel tussen die twee parkeergebiede, een oorkant Woltemadestraat, een naby die putt-putt-bane en een by Duinepark.

Punt sê in reaksie op die leser se klagte, Strand het nog altyd binne en buite seisoen toiletgeriewe gehad. “Buite die seisoen word geen mobiele toiletgeriewe voorsien nie en die permanente openbare toilette is tussen 07:00 en 18:00 oop.”

Punt het gesê in die vakansietyd sal die Stad ekstra mobiele toilette oprig waarvan drie glo reeds by die nuwe seemuur geplaas is.

“Van 15 Desember sal groter mobiele toileteenhede beskikbaar wees, soos in die vorige seisoen. In die besige seisoen sal geriewe van 06:00 tot 19:00 oop wees.”

Hy het gesê dit gebeur soms dat toiletgeriewe gesluit word om instandhoudingswerk te doen.

“Ons het ’n probleem dat sommige besoekers aan die strand ons permanente en tydelike toiletgeriewe beskadig en dit lei dan tot die sluiting van die geriewe om dit sodoende te herstel.

“Met die komende feestyd hoop ek dat alle besoekers en inwoners na ons geriewe sal omsien om sodoende te verseker dat dit beskikbaar is vir almal wat dit wil gebruik.”

Punt het die publiek aangemoedig om enige vorm van vandalisme aan wetstoepassers te rapporteer deur 021 480 7700 te skakel.

Wetstoepassers sal reg deur die feestyd oral op die strandgebied diens doen.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak DistriksPos Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.