Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Tiener sing land aan die brand

Sy het byna die sluitingsdatum vir inskrywings vir die kompetisie misgeloop en haar inskrywingsvideo is blykbaar amper misgekyk, maar haar weergawe van die Radiohead-liedjie “Creep” het die beoordelaars só beïndruk dat hulle haar onmiddellik as een van die finaliste gekies het.

Vir Deidre Barnard, ’n 16-jarige inwoner van die Strand, is haar deelname aan die nuwe VIA-werklikheisreeks, Die Kontrak, nie net die eerste stap na ’n beroep in die musiekbedryf nie, maar ook bevestiging dat musiek haar roeping is.

“My ma het my van die program vertel en ek het gedink, ‘Oh my word, hierdie lyk actually legit’. En toe vergeet ek daarvan! Die aand voor die inskrywings gesluit het (Vrydag 29 Junie), het ek my oudisievideo’s vinnig opgelaai,” vertel sy van haar inskryfproses.

“Die Sondag het ek gehoor dat ek gekies is! Die gevoel was onbeskryflik. Ek het gebewe, gelag en gehuil op dieselfde tyd. Dit was net so unreal en ek was net so gelukkig op daardie oomblik. As ek ooit getwyfel het of musiek is wat ek met my lewe moet doen, is ek weer van voor af oortuig dat dit my roeping is.”

Die Kontrak het verlede maand op VIA (DStv-kanaal 147) begin, met Coleske Artists op soek na die volgende groot Afrikaanse kunstenaar. Agt aspirant-sangers, van wie Deidre een is, spook dit week ná week uit vir ’n platekontrak met die platemaatskappy. Die wenner word in November by die Afrikaans is Groot-megakonsert gekroon.

Die program word deur Bobby en Karlien van Jaarsveld aangebied, met sangers Theuns Jordaan en Corlea Botha asook Barry Pretorius, die regisseur van die Afrikaans is Groot-megakonserte, op die kennerpaneel. Elvis Blue, Tarryn Lamb, Monique Steyn en Dewald Wasserfall is elk ’n mentor vir twee finaliste.

Deidre word deur Dewald afgerig en sy is baie ingenome dat dié sanger en liedjieskrywer die rol vertolk.

“Ek het gehoop Dewald sal my kies om in sy topses te wees toe ek ingeskryf het. Ek is ook ’n sanger en liedjieskrywer en glo ek kan baie by hom leer, en ek is ’n huge fan,” verduidelik sy.“Hy is ’n baie goeie mentor en die regte mentor vir my, want hy weet wie ek as kunstenaar is en hy verstaan wie ek wil wees. Hy help my om in die regte rigting te beweeg en hy moedig my aan om geleenthede aan te gryp. Hy is ook baie snaaks.”

Volgens Deidre het haar liefde vir musiek, veral sang, vroeg begin, met haar ma wat die passie in haar aangewakker het. In hul huis het haar ouers, Sicilie en Kobus, altyd musiek gespeel, wat daartoe gelei het dat sy ’n goeie musiekagtergrond ontwikkel.

“Ek sing al vandat ek kan praat! Ek was vyf jaar oud toe ek vir die eerste keer in die kerk gesing het en ek was só tuis op die verhoog,” sê Deidre.

“Van daardie oomblik af het ek geweet dis wat ek vir die res van my lewe wil doen. My ma is die eintlike sanger; sy sing al haar lewe lank en het altyd vir my gesing toe ek klein was. Sy het musiek in Potchefstroom geswot, was lank die aanbiddingsleier by Helderberg-gemeente en is die hoof van die musiekskool by Laerskool Hendrik Louw.”

As sewejarige het Deidre aan haar eerste eisteddfod deelgeneem en sy het later ook aan eksamens en kompetisies deelgeneem. Sy ontvang van die begin van die jaar tuisonderrig, ’n besluit wat sy geneem het om op haar musiek te fokus, meer tyd daaraan af te staan en vroeër te kan matrikuleer.

“Deesdae skryf ek baie van my eie musiek en ek werk daaraan om ’n onderwysgraad in sang te kry. Ek help my ma ook met sanglesse by die skool,” vertel Barnard.

Verlede jaar het sy aan die Suid-Afrikaanse kampioenskap van die uitvoerende kunste deelgeneem en is as die beste junior sanger aangewys – ’n prys wat sy as ’n “uitblink-oomblik” in haar jong sangloopbaan beskryf. Deidre was ook deel van die SA span wat aan die wêreldkampioenskap in Los Angeles deelgeneem het. “Om gekies te word vir die topagt in Die Kontrak en die geleentheid te kan kry om met sulke bekroonde musikante te kan werk, is beslis die hoogtepunt van my sangloopbaan,” meen sy.

Die ondersteuning wat sy van haar familie en vriende ontvang, is vir Deidre die dryfkrag om aan te hou. “My pa, ’n ouditeur, is my grootste ondersteuner en my ma moedig my nog altyd aan om my drome en geluk na te jaag. My broer, Xander, is ’n matriekleerder by Hoërskool Strand en my beste vriend,” verduidelik sy.

“My familie en vriende deel in my opgewondenheid en hulle is so ondersteunend – van hulle het meer gehuil as ek toe hul hoor dat ek in die topagt is.”

Waarna sien die talentvolle sanger die meeste uit met haar deelname aan die kompetisie? “Om te leer hoe die bedryf werk, om mense in die bedryf te leer ken en by hulle te leer. Ek sien uit daarna om kontakte op te bou, vriende te maak en myself aan Suid-Afrika bekend te stel.”

V

V Nuwe episodes van Die Kontrak word elke Woensdag om 20:00 op VIA uitgesaai met heruitsendings op Vrydae om 19:00 en Sondae om 18:00. Die JOOX-app is die amptelike stroomvenoot van Die Kontrak.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak DistriksPos Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.