Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Tienermeisie se lewe kortgeknip

Slegs ’n dag ná die toevoeging van nog ’n jaar tot haar kosbare lewe, het die hartelose noodlot toegeslaan.

Andrea Marthinus van Strand is dood toe sy net ’n dag ná haar 18de verjaardag die slagoffer van ’n tragiese ongeluk was.

Die voorval het verlede Donderdag (28 Junie) plaasgevind toe sy op die hoek van Sercorrylaan en Broadway Boulevard deur die sleepwa van ’n vragmotor getref is. Die tienermeisie het na bewering onder die wiele beland toe die kode 14-vragmotor uit Broadway Boulevard in Sercor-rylaan ingedraai het.

Die sleepwa het oor die sypaadjie waar sy gestaan het gery.

Andrea het ’n blink toekoms gehad. Sy was in haar matriekjaar aan Strand Sekondêre Skool.

Volgens ’n Strand-polisiewoordvoerder het die ongeluk omstreeks 19:00 gebeur en polisielede is kort daarna na die toneel ontbied.

Die tiener se ma, Jean Marthinus (45), het vertel dat ’n kennis aan hul deur geklop en die slegte nuus oorgedra het. Sy en twee van haar seuns het onmiddellik na die toneel gehardloop.

“Met ons aankoms was sy klaar deur paramedici in die ambulans gelaai. Iemand het gesê die wiele van die vragmotor se sleepwa het oor haar gery,” het die ’n bedroefde Marthinus vertel.

“Ek was heeltemal verlam deur die voorval. Ek het amper van my kop af geraak.”

Die ma van vier vertel dat haar pragstuk van ’n dogter van ’n maat se woning in Twaalfde­straat terug huis toe geloop het toe die voorval gebeur het.

Die polisiewoordvoerder het verduidelik dat twee oog­getuies, twee broers wat aan die oorkant gewag het om die pad oor te steek, die ongeluk sien gebeur het. Een van die sibbe het glo oomblikke ná die ongeluk agter die vragmotor aangehardloop toe die bestuur­der na bewering onbewus van die ongeluk aangery het.

Die 47-jarige vragmotor­bestuurder was glo op pad na die depot aan die einde van sy werksdag.

Volgens Marthinus het haar dogter baie seergekry en verskeie frakture opgedoen. Sy is na die Tygerberg-hospitaal geneem waar sy Vrydagnag (29 Junie) aan haar beserings beswyk het.

Marthinus het gesê dat sy haar dogter vyfuur die oggend die eerste keer ná die ongeluk asook die laaste keer lewend gesien het. “Sy het my hand gedruk. Maar, ek kon aan haar toestand sien dat sy baie seergekry het en ten spyte van haar geveg moontlik die stryd gaan verloor.”

Marthinus het haar dogter as ’n lieflike kind beskryf. “Sy was eiewys en het haar nie deur ander laat voorsê nie. Sy was baie liefdevol.”

Volgens ’n skoolvriendin, Alischca Wildschutt (18), was haar gr.12 A-klasmaat die rede waarom sy uitgesien het na skool. Om nou ná die skool­vakansie te moet teruggaan, is ondraaglik om aan te dink.

“Sy was liefdevol, vriendelik en gaaf. Haar energie en positiewe geaardheid was aan­steeklik en iets wat niemand van haar kon ontneem nie. Sy het die gemoed in die klas verlig en vir hope pret gesorg,” het Wildschutt onthou.

Nog ’n klasmaat, Porche Fries (17), het gesê Andrea “was wonderlik, sjoe! Sy was nooit kwaai nie tensy jy om die een of ander rede in haar bad books beland het. Ek gaan haar verskriklik baie mis, veral ons geselsies en kattekwaaddoenery en om mekaar reg te help.”

Andrea word oorleef deur haar ma, Jean (45), stiefpa (43) en drie broers.

Die familie tref nog begrafnisreëlings.

Die polisie ondersoek ’n klag van strafbare manslag.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak DistriksPos Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.