Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Toendertydse dansplekke in Strand

My goeie en gewaardeerde ou skoolmaat gee toe vir my op ’n mooiweersdag ’n kompakte skyf wat ’n reeks foto’s oor historiese plekke in die Strand bevat. Wat ’n wonderlike ervaring was dit nie!

Die foto’s het ’n hele rits aangename herinneringe en emosies by my opgediep. ’n Mens wonder of die volle konteks, die intensiteit van die gebeurtenisse en die unieke belewing van die situasies soos op die foto’s weergegee, enigsins sinvol in woorde omgesit kan word. Hoe betroubaar is foto-elisitering dus? Ek het in my skoenboks vol foto’s uit die jare sestig gaan grawe, maar my vriend se foto’s was uniek.

’n Statiese foto wat met ’n sinvolle gepaardgaande teks in ’n aanbieding omskep word, kan met vriende en ander belangstel­lendes gedeel word. ’n Mens moet egter deesdae waak teen gemanipuleerde foto’s wat valse geheuebeelde by volwassenes en jongmense herroep. Foto’s is ook ’n goeie metode om kosbare herinneringe te berg en te verfris. Geskiedkundige foto’s speel ’n belangrike rol om ons kollektiewe kulturele geheue te bewaar. ’n Foto koppel die menslike geheue aan visuele media en beweeg dus op die snykant tussen die individu en die gemeenskap asook tussen die verlede en die hede.

Die ou Strand Paviljoen was in ons skooldae as die “Pêv” bekend. Langs die Pêv was die jetty (kaai) wat ook op die foto sigbaar is. In die Pêv se saal het ons destyds ’n hond uit ’n bos gedans. Innoverende skoolseuns het orkeste soos die Harlequins, Seaquins en Rigar Five op die been gebring en ongelooflike opwinding opgelewer wat met die dansery op die houtvloersaal van die Pêv saamgegaan het.

Later het die dansery na die boonste vloer van die Strandkafee verskuif, maar dit was nooit weer heeltemal dieselfde nie. As Jannie Boonzaaier en sy Harlekyne in die Pêv-saal afskop met Oh Cecilia, you’re breaking my heart . . . was dit ’n unieke ervaring.

As die konteks verander, dan verander die elisiterende emosies skynbaar ook.

Die Dags (Da Gama Hotel) het destyds ’n klein dansvloertjie gehad en Saterdagaande het Peter Heineman en sy orkes lekker dansmusiek dáár gespeel. Hier moes die dansers hul passies ken en altyd streng anti-kloksgewys beweeg, veral met die groot treë van die stadige wals en die twee-twee-ritmiese kantpassies van die samba.

Die White House het volgens oorlewering ’n springvloer gehad. Tot vandag toe is ek nie seker of die vloer ooit onder ons beweeg het nie, maar ’n mens weet nooit of die vloer tog nie effens meegegee het (veral met die bykomstige effek van verbeelding) tydens die uitvoering van die uitbundige “Zorba” nie.

Die Van Riebeeck-hotel was bekend vir sy dineedanse en orkes wat se dansnommers jazz-ondertone gehad het. Die geleenthede is Saterdagaande met pak-en-das bygewoon.

Sidney Sank, die eienaar van die Gordonia-hotel (destyds oorkant die Gordonsbaaise hawe geleë) het menige Desembervakansie ons as studente in diens geneem as kroegmanne in die mans- en dameskroeg sowel as die kroegdienspunt in die Gordonia se bekende balsaal. Die Gordonia was ’n historiese gebou met ’n strategiese ligging skuins teenoor Bikini-strand en die hawemuur.

Die orkes in die Gordonia se danssaal het telkens die naam van die volgende dans (hetsy cha-cha; samba, rumba, wals, jakkalsdraf, twist of tango) met helder liggies wat agter ’n plaatjie met uitgesnyde letters uitskyn, aangekondig.

Die bewaring van ons kulturele geheue is belangrik en so ook gesprekvoering oor die verskille van gister en vandag. Die interpretasie van geskiedkundige foto’s bly altyd ’n unieke ervaring vir die waarnemer soos Greene, Montgomery en Loehr tereg opmerk: “Snapshots are like points from an impressionist’s paintbrush. Each of them makes a beautiful [and unique] picture.”

V Bronne: Greene, VH, Montgomery, ED en Loehr, SW. 2000. An Augusta Scrap Book. Twentieth Century Memories. Mount Pleasant, Suid-Californië: Arcadia-uitgewers.

V Dr. Handré Brand is ’n dosent aan die Universiteit Stellenbosch.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak DistriksPos Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.