Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Uiteindelik! Sy eie huis ná 32 jaar!

Voëltjies kwetter en verbreek die stilte, duik en baljaar vir ’n vale in ’n waterbad in ’n tuin omring met plante.

Vir Cliffie Cornelius, wat 32 jaar lank geswerf het en nog nooit ’n plek sy eie kon noem nie, is dit een van die tekens dat hy tuis is.

“Nou kan ek tot laat buite sit. Dit is veilig en rustig. Ek kan ’n slag rustig slaap. Kyk hier,” sê hy en sit die ligskakelaar aan. “Hier is elektrisiteit. Ons hoef nie meer met paraffien of gas te sukkel nie. Die kos word nie meer vrot nie, want ek het ’n yskas,” sê hy.

Die 61-jarige en sy vriendin Alida Coetzee (49) het in Januarie in die tweeslaapkamerhuis in Morkel’s Cottage, Strand ingetrek. Die erf voor is omhein vir skuiling vir sy plante.

“Ek het in 1987 aansoek gedoen vir ’n huis en 32 jaar later die sleutels in my hand gekry.”

Die gemak van vier mure en ’n dak oor sy kop was jare lank nie vir hom beskore nie. “Ek is dankbaar dat die huis ’n toilet het. In die verlede moes ek altyd op ’n emmer sit en dit gaan uitgooi. Dit is nou baie beter.”

Hy het ongeveer 40 jaar gelede Helderberg toe gekom en vir ’n organisasie sonder winsbejag gewerk wat mense in nood en wat op straat bly, gehelp het om met hul families te versoen. “Ek het Alida en haar seun ontmoet toe sy weens haar omstandighede op straat beland het.”

Cornelius sê daar het niks gekom van sy aansoek in 1987 nie. “Ek het geleer jy moet vertrou. Jy kan net op God vertrou, maar ek het vertrou, moed verloor en weer vertrou. Ek het baie kere by die Here gekla.”

Sy lewe was moeilik, maar die huis was altyd in sy gedagtes. “My oorlede pa het altyd gesê ‘dis nie lekker om jou voete onder ’n ander man se tafel in te steek nie, want jy weet nie wanneer die donkerte jou gaan vang nie’. Met ander woorde jy weet nie of jy vandag nog daar is en of jy môre sal moet padgee nie.”

Hulle het ’n paar jaar gelede ’n stukkie grond by Eagle Bar, ’n informele woongebied gekry.

“Die mense het moeilik geraak toe hulle hoor dat ek met straatmense gewerk het. Hulle het my nie daar gesoek nie.”

Hy is drie keer grond gegee, maar moes elke keer alles afbreek en trek. “Toe dit die vierde keer gebeur, toe besluit ek dis genoeg, hier stop ons. My lewe was woes, maar dit was erger dáár.”

Die omstandighede was haglik en alles was vuil. “Daar was nie toilette nie, geen vullis is verwyder nie, daar was net een waterkraan vir almal. Dit het gestink en daar was rotte en slange.”

Cornelius was ’n kampvegter vir die inwoners toe ’n uitsettingsbevel ’n paar maande later aan die onwettige plakkers afgelewer is.

“Ons almal sou moes uit, want dit is munisipale grond.” Die mense bly nou nog daar. Danksy sy insette en harde werk het die munisipaliteit toilette aangebring, die gebied skoongemaak en nog ’n kraan beskikbaar gestel.

“Ek het Desember ’n huis gekry, maar dit het net verdwyn,” sê hy, lag en verduidelik dat hy ’n huisnommer gekry het en toe hy navraag doen, toe bestaan die huis nie, maar net op papier.

Met die hulp van lidmate van die kerk, plus baie papierwerk en geloof, kon hy in Januarie in sy eie huis intrek.

“My geloof is sterk. Ek praat met God. Ek glo jou daaglikse lewe, alles wat gebeur, is beplan. Dinge sal gebeur soos die leermeester dit uiteengesit het.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak DistriksPos Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.