Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Veiligheidswagte van 2 trommels beroof

Gewapende rowers het Vrydagoggend (7 Februarie) op die Macassar-winkelsentrum toegeslaan en ’n onbekende bedrag geld van Fidelity-veiligheidswagte gevat.

Polisiebeamptes, reaksie-eenhede en veiligheidswagte was binne minute op die toneel waar nuuskierige inkopiegangers saamgedrom het om te kyk hoe polisiebeamptes die verdagtes soek.

Een van die werknemers van die sentrum, die 51-jarige Moegamad Abrahams, vertel hoe hy as gyselaar aangehou en gedwing is om vir 90 minute op sy knieë te staan en na die muur te staar.

“Ek was omstreeks 10:00 op pad badkamer toe om water en skoonmaakmiddels te gaan haal. Skielik het ’n man my uit die badkamer en in ’n ander kamer ingedwing waar die Fidelity-veiligheidswagte ook was. Die verdagtes het ons gedreig,” vertel Abrahams.

“Ek was nog nooit so bang in my lewe nie.”

Volgens hom het die verdagtes die twee veiligheidswagte ontwapen en met twee bokse gevlug.

“Hulle het ons gedwing om op die vloer te sit en na die muur te kyk.” In ’n stadium het hulle Abrahams en die veiligheidswagte in die OTM toegesluit.

“Daar was ongeveer vier verdagtes en binne 15 minute was alles verby. Ek was steeds vasgebind, in die OTM toegesluit en moes vir die Fidelity-bestuurder wag om vir my oop te maak.”

Polisie-eenhede soos die honde-eenheid was binne minute op die toneel om seker te maak dat die verdagtes nie nog in die sentrum is nie.

Ná ’n deeglike ondersoek het die polisie bevind dat die verdagtes reeds gevlug het.

“Ek is nog erg getraumatiseer,” sê Abrahams. “Ek kan nie ophou om aan die ondervinding te dink nie. Ek kyk gereeld oor my skouer, want ek is bang iemand val my aan.” Niemand is in die voorval beseer nie.

’n Woordvoerder van die Macassar-polisie het bevestig dat ’n klag van gewapende roof deur die Valke ondersoek word en dat ’n onbekende bedrag geld gesteel is.

“Kringtelevisie-beeldmateriaal wys dat die verdagtes na Pep Stores se winkel gehardloop het waar ’n ontsnapmotor – sonder ’n nommerplaat – op hulle gewag het,” het die woordvoerder verduidelik.

Dit was ’n silwer Hyundai.

“Die verdagtes is nie bekend in die omgewing nie en niemand is nog in verband met dié rooftog in hegtenis geneem nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak DistriksPos Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.