Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Vraag na meer toilette in Kusweg

’n Plaaslike gemeenskapsorganisasie is bekommerd dat die gebrek aan voldoende toiletgeriewe Strand se toerisme kan knou.

Dit volg ná verskeie klagtes die afgelope paar jaar rakende die beskikbaarheid en toeganklikheid van openbare toiletgeriewe in Kusweg.

’n Leser het verlede week haar misnoeë uitgespreek nadat sy en ’n vriendin – ’n besoeker aan die Strand – laatoggend op die strand gaan stap en dringend ’n toilet nodig gehad het, maar nêrens een naby kon vind nie.

Hulle het noodgedwonge teruggestap motor toe en afgery tot by die sirkel waar hulle net betyds ’n oop toilet opgespoor het (“Strand-besoekers vind hul in die knyp”, DistriksPos, 22 November).

Intussen het die Strand-belastingbetalersvereniging (SBBV) hul kommer uitgespreek oor die uitwerking wat die gebrek aan toiletgeriewe op toerisme het. Uit e-pos-korrespondensie blyk dit dié organisasie vra reeds die afgelope paar jaar die Stad om die aanvraag na meer openbare toiletgeriewe te ondersoek.

Dorette Bassil, wat op die SBBV-komitee se portefeulje vir strande dien, het aan DistriksPos gesê sy het al persoonlik ervaar hoe toeriste skarrel op soek na toiletgeriewe wanneer hulle die strand besoek. Die meeste van die tyd was dit ná 18:00 buite die seisoen wanneer dit reeds gesluit is.

“In een só voorval het ’n swanger vrou van Oostenryk dringend ’n toilet nodig gehad. Dit is ’n skande dat al die toilette reeds 18:00 in die middae sluit terwyl die strand nog vol besoekers is.

“Ek het al verskeie kere gesien hoe mense voor die deur van ’n toe toilet urineer of die sandduine as ’n toilet gebruik. Waarheen moet mense op die strand ná 18:00 gaan?

“Dit is die rol van die Stad om geriewe aan belastingbetalers en toeriste te voorsien, nie die rol van die gemeenskap en belastingbetalers om vir basiese geriewe te smeek nie,” het sy gesê.

Sy het verder gesê die strandgebied is van “die uiterse belang om toerisme te bevorder en ekonomiese groei te stimuleer”.

“Dit is ’n stedelike strand sowel as ’n toeristestrand. Toeriste betaal duisende rande om hier vakansie te kom hou. Dit alleen is reeds ’n sterk genoeg motivering om voldoende geriewe beskikbaar te stel.”

Volgens Bassil sal hulle tevrede wees as minstens een toiletblok – die een naby Woltemadestraat by die hoof-swemstrand – regdeur die jaar tot sonsondergang oopbly.

“Jaar in en jaar uit word die saak op vergaderings bespreek. Die stad voer tot op datum geen redes aan waarom nie aan die versoek voldoen kan word nie.”

Bassil het gesê met ’n toename aan strandbesoekers jaar ná jaar is dit tyd dat die Stad ondersoek instel na beter beskikbaarheid van fasiliteite asook die “estetiese verbetering van die seefront-gebied as ’n geheel” wat vergroening en landskapuitleg insluit.

Sy het gesê beter toegangsbeheer sal by die toiletgeriewe toegepas moet word.

“Die personeel hou nie by die tye nie. Dit is ook al talle kere oor die jare onder die aandag van Stad gebring. Die standaardantwoord is dat die kontrakteur verantwoordelik is vir die bedryf daarvan. Die aanstelling van ’n kontrakteur is die Stad se verant­woordelikheid. Ons het voorgestel dat die Stad vereis dat die kontrakteur ’n klokstelsel instel om te verseker dat die personeel by die oop- en toesluittye hou. Die toilette is soms 17:00 reeds gesluit en dit wanneer die strand nog vol besoekers is. Dit is dieselfde probleem soggens.”

Die Wyk 83-raadslid, Carl Punt, het by navraag gesê die verantwoordelik­heid ten opsigte van toiletgeriewe in Kusweg val onder die Stad se ontspannings- en parkeafdeling en die Stad het met die oprigting van die nuwe seemuur besluit om nie permanente toiletgeriewe te bou nie, maar eerder van tydelike toilette gebruik te maak.

“Tydelike toilette is op die oomblik beskikbaar, maar met die spitsseisoen sal houertoilette op strategiese plekke by die nuwe seemuur geplaas word om die druk in die spitsseisoen te hanteer.”

Hy het ook gesê daar is besluit om die toilette in die vakansietyd tot 20:00 saans oop te hou, afhangend van die weer.

In reaksie op die vraag oor hoe personeel ten opsigte van oop- en toesluittye gemonitor word, het Punt gesê dit bly die kontrakteur se verantwoordelikheid om dit te monitor. Die kontrakteur maak gebruik van EPWP-werkers en moet voldoen aan die Wet op Basiese Diensvoorwaardes.

Hy het gesê die departement vergader egter dikwels met die kontrakteur om probleme wat onder sy aandag gebring is, te bespreek, maar hou vol “die kontrakteur is verantwoordelik vir sy [eie] dissiplinêre prosesse”.

“Werkers is [al] ontslaan as gevolg van probleme wat aangemeld is.”

V Klagtes kan by die departement aangemeld word deur 021 850 4089 te skakel. Inwoners is ook welkom om Bassil te kontak oor kwessies wat die strand raak by doretted@mweb.co.za.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak DistriksPos Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.