Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Vroue in Aksie span saam teen bendes

’n Gemeenskapsorganisasie in Strand, Vroue in Aksie, het Woensdag 1 Mei ’n vergadering gehou waar lede van die gemeenskap hul misnoeë uitgespreek het oor die aaneenlopende geweld in die area.

“Ons gaan nie ons gemeenskap aan bendes verkoop nie. Ek gaan hand en tand baklei teen wat verkeerd is in Broadlands-park,” het Zorah Motasi, die groep se voorsitter, gesê.

Ouers van kinders wat weens bendegeweld in die Tarentaalplaas-omgewing dood is, het onder andere ook met die gehoor gepraat. Een ouer het gesê sy wil nie hê enige ander ouer moet ’n kind op dié manier aan die dood afstaan nie.

“Ek vra die ouers wie se kinders gangsters is – en hulle weet van hul kind se doen en late – moet dit nie toesmeer nie. Dit is verkeerd wat jul kinders doen.”

Volgens inligting wat Motasi met die gehoor gedeel het, is daar glo vyf verskillende bendes in die gebied aktief.

“Die gangsters ontwrig ons lewe. Dit is ons verantwoordelikheid om ons kinders reg op te voed,” het sy gesê.

Nog ’n lid van die groep het gesê die kinders in die gebied raak abnormaal groot.

“In my huis is daar groot moles wanneer een van my kinders ’n kappietop wil aantrek, want die gangsters is verward, hulle weet nie eers meer vir wie hulle skiet nie.

“Hulle weet nie wie hulle eie is nie, wie van die gang is en wie nie aan ’n gang behoort nie. Dis mos nie normaal dat ek en my kinders oor sulke goed moet vassit nie.

“Ons moet almal saam hande vat om die skrikbewind wat tans hier aangaan te bestry. Dis ons almal se verantwoordelikheid.”

’n Jong laerskoolseun het ook ’n spreekbeurt gehad en gesê: “Ek hou nie van die skietery nie. Dis nie meer lekker om in Tarrie (Tarentaalplaas) te bly nie.”

Daar is by dié byeenkoms meer as een keer bewerings gemaak van polisielede in Strand wat kinders van die gemeenskap sonder rede aanrand.

Daar is ook beweer dat daar polisielede is wat self bendelede is.

“Daar is polisiemanne wat ons kinders aanrand en wat korrup optree in die manier waarop hulle hul werk doen. Dis nou die goeies uitgesluit, maar jy kan nie ’n gemeenskap beskerm as jy self deel is van die probleem nie,” was die opmerking wat een van die sprekers gemaak het.

Die bevelvoerder van die polisiestasie in Strand, kolonel Devina le Roux, het by navraag aan DistriksPos gesê alle bewerings van hierdie aard wat op skrif ontvang word, word opgevolg.

“Maar sulke bewerings kan nie opgevolg word as die ander party nie ’n verklaring aflê nie. Dit is die meeste van die tyd die geval met hierdie bewerings.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak DistriksPos Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.