Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Waardeer jou ma vir wat sy is

Ná ’n finansiële uitmergelende feesseisoen en wat gevoel het soos vier maande van “Januworrie”, is ek amper bly dat ek in plaas van ekstra sente in my beursie liewer my seëninge kon tel.

Ek is dankbaar vir veral een – die seëning wat my ma is.

My liewe moeder, wat vir ’n paar jaar al permanent saam met my stiefpa in Harlem, Amsterdam, woon, het ons met meer as ’n maand lange besoek bederf. Die laaste keer toe ons bymekaar was, was toe my oupa net bietjie meer as ’n jaar terug oorlede is. Nes altyd was dié hoogs verwagte en lank uitstaande kuiertjie baie spesiaal.

Vandat ek self vier jaar gelede vir die eerste keer ’n mamma van my eie pragstuk, my dogtertjie, geword het, het ek baie meer respek vir my moeder wat betekenis gee aan die woord “ma” en vir my die weg wys.

Namate die jare aanstap, groei ek in my waardering vir haar. En die besoek het ietwat van ’n groeiversnelling gebring. Ek het die vakansie die voorreg gehad om die onwrikbare ondersteuning en onvoorwaardelike liefde soos net my ma kan bied, te ervaar – nog ’n seëning wat talle ander wat hul moeders naby het, elke dag geniet en soms as vanselfsprekend aanvaar.

Ek kon sonder om sleg te voel my onsigbare supervrou-uitrusting se skouermantel wat ek regdeur die jaar dra, uittrek en die trots oor my onafhanklikheid vir ’n oomblik in my sak steek en hulp uit omgee aanvaar.

As ek onder ’n lang dag deurgeloop het, het sy troos gebied in ’n heerlike, nostalgiese bordjie kos wat ek weens druk nie self hoef te maak nie.

Die welverdiende blaaskans van die opwasbak en stoeikryt met manlief oor sy beurt om die kind te bad, word opreg waardeer; dan ook die klein inisiatiewe soos om die skoon wasgoed in die mandjie op te vou of selfs die geselsies oor ’n koppie warm tee voor slapenstyd of net haar nabyheid, veral in tye waar sy wonderbaarlik die nood raaksien.

Ná die gehaltetyd saam met my ma en die seëning om haar spesiale vermoëns te kan beleef, het ek weer eindelose waardering vir haar.

Gevolglik doen ek ’n beroep op ander wat nog die voorreg het om hul ma’s in hul lewe te hê, om waardering aan dié superhelde te toon. Waardeer die unieke liefde van jou ma en alles wat sy doen – die opofferings wat sy sonder twyfel maak; waar sy haarself te kort doen om jou aan te vul; haar teenwoordigheid en ondersteuning wanneer dit nodig is; haar Godgegewe talent om jou op te beur wanneer niemand anders kan nie en moed in te praat om die lewe en al sy uitdagings met nuwe ywer aan te pak.

Laat jou waardering en dankbaarheid vir haar enige moontlike kritiek en oordeel waaraan ons onsself soms so maklik kan oorgee, oortref.

Vir diegene wat nie meer ’n ma het nie, koester soete herinneringe van wat jou ma vir jou beteken het en laat dit jou aanspoor om eendag die beste moeder moontlik te wees.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak DistriksPos Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.