Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sport
Berge breek span se hart

Verlede Saterdag (25 Augustus) het Helderberg in ’n 11de ronde-wedstryd van die Superliga-B op Eikendal in Kraaifontein teen Hands & Heart gespeel en met 8-22 geseëvier.

Die wedstryd is gekortwiek deur ’n stormsterkwind van omtrent 50 km/h op ’n sopnat veld en gietende reën.

Die tuisspan het eerste windvoordeel geniet en het dit gebruik.

Binne die eerste 10 minute het hy twee keer strafskoppe gekry, maar die sterk wind het die pogings laat misluk.

Eers in die 27ste minuut ná ’n breekslag deur buitesenter Ryan de Wee het heelagter Mornay Jonkers die openingsdrie gaan druk om sy span se rekening te open.

Die doelpoging was tevergeefs (0-5).

In die 36ste minuut kry Hands & Heart ’n strafskop 10 m duskant die halflyn en sy heelagter slaag met die langskop (rustydtelling: 3-5).

Ná rustyd, nou met die wind van agter, bly hantering ’n probleem, maar Helderberg se voorspelers domineer met indrukwekkende skrumwerk deur die stutte, vaskop Dehan Kruger en loskop Gambit Williams.

Punte bly egter weg tot in die 20ste minuut van dié helfte toe Jonkers vir sy tweede drie in die hoek oorduik.

Die doelskop waai weer weg (3-10).

’n Sterk breek deur skrumskakel Bokkie Carstens volg en eindig toe binnesenter Greg Claasen met ’n drie afrond. Marshall Douman se doelskop is raak (3-17).

Vyf minute later, ná ’n losgemaal, breek plaasver­vangerhaker Duanne Filander weg en voer sy stut Williams wat die bal na agter voer in die hande van De Wee.

Hy snel oor die doellyn vir sy span se vierde en bonuspuntdrie tot groot verligting van die bestuurspan en spelers (3-22).

Voor die eindfluitjie gaan druk Hands & Hearts ’n troosdrie om die eindtelling na 8-22 te neem.

Vir die tuisspan was die dag waarop sy ontslape afrigter ter ruste gelê is, ’n emosionele dag.

Helderberg sal moet hard dink en hard werk om hierdie Saterdag op die Charles Morkel-stadion te wen teen ’n onvoorspelbare Young Peoples.

Die klub se tweede span wen met 0-24 en druk vier drieë. Driedrukkers is Jan-Hendrik Naudé, Pierre-Henry Hurn, Duncan Robertson en Danie Myburgh.

Losskakel Graham Hendricks slaag met twee doelskoppe.

Die Helderberg-o.20-span wen hul derde agtereenvolgende wedstryd, maar slegs met 10-11.

Calvin Kruger druk die wendrie in beseringstyd en Janno Brink slaag met twee strafdoele in die eerste helfte.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak DistriksPos Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.