Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sport
Besoekers verpletter Saints

Helderberg-rugbyklub het in ’n agtsteronde-Superliga-B-kragmeting op Helderzicht-sportterrein, wat Saterdag 28 Julie gehou is, 21-37 oor All Saints-rugbyklub geseëvier.

Die besoekers het die wedstryd eintlik in die eerste helfte al beklink toe hy lemoentyd ’n voorsprong van 27-0 gehad het.

Dit was van die afskop af net eenrigtingverkeer. Die losskakel, Marshall Douman, het sy span se rekening ná net nege minute met ’n strafdoel geopen. Vyf minute later het die besoekers se agttal van die 10-meter-lyn tot by die doellyn met die Saints se pak voorspelers geloop en ’n strafdrie het gevolg (0-10).

In die 18de minuut het die regtervleuel, Ronaldo Daniels, ná ’n volgehoue aanval in die hoek oorgeduik. Douman het met die doelskop van die kantlyn af geslaag (0-17).

Die tuisspan het effe tot verhaal gekom en kwaai teenstand begin bied. Douman het egter weer met ’n strafdoel geslaag (0-20).

Net voor rustyd het die skrumskakel Breyton Isaacs skerp gebreek en besit is deur die hande van Douman in die hande van sy woelige flank Alvino Anthony oorgedra. Dié het sy voet op die pedaal gesit en toe hy gestuit word, was sy senter Greg Claasen by om af te rond. Douman se raak doelskop het die rustydtelling 0-27 gemaak.

Ná die omdraai en met ’n ligte windjie van agter vir Helderberg het die ondersteuners ’n herhaling van die eerste helfte verwag, maar die teenoorgestelde het gebeur.

All Saints het die inisiatief geneem en in die 17de en 20ste minuut skitterdrieë aangeteken om die telbord na 14-27 te verander. Die agtsteman, Jeraldo Jacobs, was eerste oor, en hy is gou deur sy regtervleuel, Rudi Brandt, gevolg. Saints se jong losskakel, Dylan Scholtz, het die ekstras bygevoeg en sy span terug in die wedstryd gebring.

Helderberg het met ’n geïnspireerde lopie van sy flank JP Crafford teruggeslaan. Hy het sy plaasvervanger-losskakel Bokkie Carstens gevoer, wat die bal aan sy heelagter, Ryan de Wee, besorg het om in die hoekie te druk (14-32).

Met sowat sewe minute se speeltyd oor het Saints se senter, Rhoden November, die span se derde drie gaan druk, wat hierdie keer deur die plaasvervanger-losskakel Isadore Williams verdoel is (21-32).

Berge het egter die laaste sê met ’n skitterdrie in die doodsnikke ná nog ’n sterk lopie van Crafford, sy speler van die wedstryd, wat die bal vir Carstens gee en weer terug ontvang vir sy drie langs die hoekvlag (ET: 21-37).

Die tuisspan was ongelukkig dat hy nie ’n bonuspunt verdien het nie. Vir Saints het sy skakelpaar Junaid Sylvester en Scholtz alles uitgehaal, terwyl sy heelagter, Jeandre Lukas, deurgaans gevaarlik was. Voorlangs het sy kaptein en flank, Omar Wyngaard, met min ondersteuning bydraes gelewer.

All Saints het op derbydag die teenwoordigheid van die ervare Cheslin Jack terdeë gemis.

Vir Helderberg het die ervare Crafford uitgetroon en hy is puik deur sy lostrio, die agtsteman en kaptein, Werner Williams, en Anthony ondersteun. Die dominerende skrumwerk van die stutte Dehan Kruger en Gambit Williams was goud werd.

Agterlangs het die senters Kyle Wessels en Claasen en die skakelpaar Isaacs en Douman geskitter.

Die tweedespanwedstryd is ook in ware derby-gees gespeel. Ná ’n rustydagterstand van 10-0 en nog later 15-0, het Berge opvangrugby gespeel en in die laaste minuut gaan druk om naelskraap 22-20 en met ’n bonuspuntdrie te wen. Helderberg se drieë is gedruk deur Dua Groenewald, Keenan Fortuin, Arlindo Gomes en Reinhardt Jonk, met ’n doelskop deur Graham Hendricks.

Saints se driedrukkers was Nathan de Jager, Justin Toerien, Nathan du Plessis en Trevor Lucas.

Saints het die eensydige o.20-wedstryd 28-3 gewen. Saints se driedrukkers was Ryan Scholtz, Austin Klink, Curtley Williams en Lee-Mondré Benjamin. Klink en Aiden January het elk twee doelskoppe bygevoeg.

Janno Brink het vir Berge met ’n strafdoel geslaag.

V Hierdie naweek het Helderberg sy laaste loslootjie, terwyl All Saints na Lentegeur opruk om met Collegians-rugbyklub kragte te meet om van die onderkant van die punteleer weg te kom.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak DistriksPos Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.