Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sport
Geldtekort kan Guillaume uitboul

Krieket is ’n natuurlike deel van Guillaume Jansen se wese en dit is geen geheim dat hy passievol oor dié spel met die kolf en bal is nie.

Dié tiener is so gaande oor die sport dat sy ma meen hy eet, speel en slaap krieket. Selfs wanneer hy sy hande op ’n ronde voorwerp lê, oefen hy instinktief sy boulvaardighede.

Sy passie is vir dié talentvolle en ywerige krieketspeler vir wie ’n blink toekoms wink, die dryfveer om bo uit te kom.

Guillaume is een van vier eerstespankrieketspelers van die Hoërskool Strand wat verlede September by Hoërskool Punt in Mosselbaai se KFC-krieketfees gekies is om in Junie na Sri Lanka te toer. Die leerders is op meriete by die krieketfees, waarin spelers van verskeie skole reg oor die land meegeding het, vir Travel & Sport se jaarlikse oorsese sporttoer gekies. Dié “een-keer-in-’n-leeftyd”-geleentheid bied dié krieketspelers die kans om 10 dae teen plaaslike klubs te gaan speel en meer van hul gasheerland te leer.

Die toer, wat krieket­wedstryde in verskeie dorpe insluit, duur van Dinsdag 16 tot Donderdag 25 Junie.

Geld is egter broodnodig om dié 17-jarige van Broadlandspark ’n stappie nader aan sy droom te bring om eendag sy land in groen en goud te verteenwoordig. Sy familie moet sowat R40 000 vir die toer insamel.

Volgens sy ma, Sheridene, was verskeie geldinsamelingsinisiatiewe, wat ’n dans en braaibyeenkomste ingesluit het, onsuksesvol en kan sy en haar man met hul inkomste net nie die geld vir hul oudste van twee seuns opdok nie.

“Om vir hom die geleentheid moontlik te maak, sal vir ons verskriklik baie beteken,” sê die nederige ma wat graag wil sien dat haar seun bo sy omstandighede uitstyg en sukses behaal.

Guillaume ag dit slegs ’n eer en besonderse belewenis om op velde te kan speel waar krieketlegendes en -bekendes gespeel het.

Die kranige krieketspeler het sy passie as gr.6-leerder aan Somerset-Wes Metodiste Primêr ontdek toe hy in die streekproewe gespeel het.

Op hoërskool het hy aanhou speel en sy doel was om die skool se eerste span aan die einde van sy gr.9-jaar te haal.

Hy is verlede jaar in die o.17- Boland-plattelandspan opgeneem.

Hoewel Guillaume ’n veelsydige speler met goeie kolfvaardighede is, blink hy as snelbouler uit.

Hy spog dat die vyf paaltjies wat hy vir sewe lopies in vier boulbeurte in ’n T20-wedstryd by die krieketfees laat kantel het, hom sy plek in die toerspan besorg het.

“Om na Sri Lanka te toer en eendag my droom te verwesenlik, sal slegs die vrugte van harde werk wees,” het hy gesê.V Enigiemand wat finansiële ondersteuning aan Guillaume kan bied, kan sy ma, Sheridene, by 063 453 6413 bel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak DistriksPos Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.