Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sport
Lulu Boys bo teen Belhar

Die St. George’s-rugbyklub het Saterdag 3 Augustus sy sesde oorwinning in die Superliga B behaal met ’n puik vertoning teen Belhar.

Die Lulu Boys, wat met 39-21 in die wedstryd op die Gustrouw-sportterrein geseëvier het, het hierdie seisoen reeds twee tuiswedstryde verloor – ’n ongewone statistiek vir dié span wat alom bekendstaan as een wat nie maklik op tuisbodem die handdoek ingooi nie. Met tuisnederlae teen Kuilsrivier en Bellville, is die Lulu’s steeds op koers om in die topses van die liga te eindig.

’n Driekuns deur die veelsydige en dinamiese Quiwen Bauman het daartoe gelei dat die tuisspan die afgelope naweek weer met mening op die wenpad kom.

Wedstryde tussen St. George’s en Belhar het die afgelope paar jaar ietwat van ’n nie-amptelike derbywedstryd geword, veral omdat ’n hele paar spelers van die Helderberg deesdae die blou speeltrui van Belhar dra.

Bauman, wat Saterdag op binnesenter uitgedraf het, het in feitlik elke aanval deur die Lulu Boys in ondersteuning van sy medespelers gehardloop. Die sensasionele en veelsydige agterspeler Jeandre Lukas het hom goed ondersteun; so ook die talentvolle heelagter Bradley Mentoor.

Die veteraansenter Fabian Filander en die ervare losskakel Carlo le Roux het die goeie balbesit, wat deur die Lulu-voorspelers verseker is, goed benut. Le Roux en Bradley Robertson het met drie doelskoppe en een strafdoel geslaag en die vlugvoetige haker Duanne Filander, Mentoor en Lukas het almal agter die doellyn gekuier.

Mirwaan Davids, hoofafrigter van St. George’s, was ná die wedstryd tevrede met sy span se vertoning, maar is steeds bedeesd ten spyte van die goeie sege. Die Lulu-oudspeler het erkenning gegee vir die insette van ’n hele paar spelers en meen sy span is ’n sterk aanspraakmaker vir ’n plek in die topses. Hy het ook sy dankbaarheid teenoor die klub se lojale ondersteuners uitgespreek.

“Dit was ’n gesonde vertoning; ons is dit aan ons geesdriftige ondersteuners verskuldig,” het Davids gesê. “Ons het vir die volle 80 minute gespeel en ons strukture dwarsdeur die wedstryd behou – iets wat ons in ’n lang tyd nie kon deurvoer nie. Dit was ’n merkwaardige sege en die spelers het dit geniet. Ek is reeds besig met beplanning vir ons volgende wedstryd.”

Die komende naweek reis St. George’s na Mamre om kragte te meet met die Hamlets-rugbyklub, alombekend vir sy taaiheid op tuisbodem. Baie topspanne het in die verlede dié sendingdorpie besoek en is ná ’n moeilike stryd met geen ligapunte nie huis toe gestuur.

Davids glo sy span se oorwinning teen Belhar is net die beginpunt om hul seisoen weer op dreef te kry en sal die spelers die nodige morele hupstoot bied vir hul stryd in Mamre. “Ons het altyd geweet die slegte vertonings sal ten einde loop en ’n baie suksesvolle seisoen is steeds binne ons bereik,” het hy bygevoeg.

“Maar ons is steeds baie bewus daarvan dat ons nog met van die liga se topspanne moet kragte meet op pad na ons doelwit om in die topses te eindig.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak DistriksPos Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.