Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sport
Macassar doen dit weer

Die geskiedenis het hom Saterdag 4 Mei in ’n spannende derby-Superliga B-wedstryd in die Charles Morkel-stadion herhaal toe Macassar in beseringstyd gaan druk en Helderberg naelskraaps geklop het.

Die telling was 33-35.

Hierdie was slegs die tweede keer dat die twee spanne kragte gemeet het nadat hulle 11 Junie 2016 slaags geraak en Macassar ook net voor die eindfluitjie ’n drie gaan druk het om onverwags, maar verdienstelik, te wen. Dié telling destyds was 15-17.

Die held in Saterdag se dramatiese oorwinning was Macassar se plaasvervanger-losskakel, Gadene Hopley, wat sentimeters van die hoekvlag af oorgeduik het.

Byna 3 000 toeskouers het die besoekers verwelkom waarna die regtervleuel, Zenodene Isaacs, sterk gehardloop en die losskakel, Antonio Haas, die doellyn oorgesteek het. Die senter Garth de Bruin se doelskop het die telling 0-7 gemaak.

In die 10de minuut het Berge gelyk gemaak ná ’n beweging deur sy skrumskakel, Marshall Douman. Die losskakel, Kyle Leibrandt, se doelskop was in die kol (7-7).

In die 16de minuut het Douman die bal na Arendse gevoer, wat sterk genael het voordat die buitesenter, Jason Kriel, onder die pale gaan druk en Leibrandt verdoel het (14-7).

Vier minute later het die losskakel (Haads) ’n slim aanvallende skop vir sy vleuel Isaacs gestuur, wat in die hoek gedruk het. De Bruin se puik doelskop was suiwer (14-14).

In die 28ste minuut ná ’n goeie dryfbeweging van die vaskopstut Dehan Kruger het Douman vinnig skoongemaak en Kriel vir sy tweede drie weggestuur. Leibrandt se doelskop het die telling 21-14 gemaak.

In die 33ste minuut het die vleuel Wessels ’n Macassar-skop raakgevat en op sy beurt ’n lang, goedgerigte verdedigende skop weggestuur wat hy self opgevolg en na buite gespeel het vir sy slot Stephan Joubert om in die hoek te gaan druk (26-14).

Kort voor rustyd het De Bruin met ’n strafdoel geslaag wat die omdraaitelling op 26-17 te staan gebring het.

Met die afskop van Macassar het Berge se flank Naym Jansen die skop afgestorm en ’n briljante drie gedruk. Leibrandt se doelskop het die voorsprong tot 33-17 gerek.

Die tweede helfte is deur Macassar oorheers, veral danksy omkeerbesit en die tuisspan se onvermoë om iets hieraan te doen. Die sterk wind het ook in die besoekers se guns gewaai. Macassar se flank Gurston Cupido het in die 15de minuut ’n skittende drie gedruk wat De Bruin verdoel het (33-24).

De Bruin het in die 20ste en weer in die 26ste minuut met twee strafdoele geslaag (33-30).

In die laaste asem van die wedstryd het Hopley die deurslaggewende wendrie gedruk en Macassar se ondersteuners was uitbundig oor hul span se sege.

Buiten Hopley en De Bruin se reusebydraes moet ook Haas, Cupido, Isaacs en Macassar se inspirerende kaptein, Werner Williams, se spel genoem word.

Vir Helderberg was Kriel, Wessels en Arendse agterlangs uitstaande en voor Chris Carstens vir sy lynstaanwerk en Kruger en Martin Oosthuizen vir hul puik saamwerk.V Ander uitslae:– Helderberg II 46-0 Macassar II– Helderberg III 31-0 Macassar III– Helderberg 20-10 Macassar (o.20’s).

V Helderberg het hierdie naweek ’n loslootjie en net die Crusaders (vierde span) speel Vrydagaand in Seepunt teen Hamiltons.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak DistriksPos Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.