Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sport
Teleurstellende sege vir Berge
06 September 2018

Hoewel Helderberg homself tydelik boaan die Superliga-B-punteleer bevind ná Saterdag se oorwinning van 22-14 op die Charles Morkel-stadion oor Young Peoples, was sy spel nie op peil nie.

Die spelers se spel is geken­merk deur ’n erge gebrek aan energie en ondernemingsgees. Tog het hy goed begin toe losskakel Marshall Douman van die halflyn deurbreek en binne Peoples se kwartlyn sy vaskopstut, Dehan Kruger, in besit stel. Die kranige Kruger was onstuitbaar op pad doellyn toe en Douman se doelskop was tussen die mikke (7-0).

Helderberg het binne ’n kwartier drie strafskoppe afgestaan en Young Peoples se skopper het sy skopskoene saamgebring en die telling 7-9 gemaak.

Net voor die rustyd het Berge lewe gekry toe skrumskakel Bokkie Carstens ’n beweging begin het. Douman het hanteer en vir die senter Kyle Wessels gevoer, wat vir sy heelagter Ryan de Wee gegee het vir ’n puik drie. Douman se doelskop maak die rustydtelling 14-9.

Sowat agt minute ná die hervatting sit flank JP Crafford af op ’n stormlopie, voortgesit deur sy kaptein en agtsteman Werner Williams, wat vir senter Greg Claasen gee om af te rond. Die doelskop is links verby.

Tien minute later reageer die besoekers met ’n drie van hul heelagter (19-14). Laat in die wedstryd slaag Douman met ’n strafdoel om die eindtelling na 22-14 te neem.

Vir Berge was heelagter De Wee uitstekend en voorlangs was Crafford, Williams en Kruger uitstaande.

Die klub se verswakte tweede span het met 34-34 gelykop gespeel. Die driedrukkers was Reinhardt Jonk (2), Wihan Kotze, Nico Havenga, Aviwe Mhlangu en Thomas Taljaard, terwyl Graham Hendricks met twee doelskoppe geslaag het.

Die uitstekende verbetering van die o.20’s is merkwaardig. Dié span het ’n vierde agtereenvolgende sege ingeryg en Young Peoples met 19-10 geklop. Calvin Kruger, Willem Smit en Jeandre van Niekerk het agter die doellyn gaan kuier en Janno Brink het twee doelskoppe bygevoeg.

Hierdie Saterdag (8 September) reis Helderberg na Kraaifontein en hy gaan teen ’n desperate tuisspan speel wat alles moet inspan om relegasie vry te spring.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak DistriksPos Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.