Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sport
Wind van agter help Lulus nie veel

Dit was so byna ’n tweede nederlaag van die seisoen vir St. George’s-rugbyklub toe hy Saterdag (4 Mei) Rangers-rugbyklub naelskraaps 17-18 geklop het.

Die Westelike Provinsie- Superliga B-stryd het in Surrey Estate afgespeel en die besoekers moes omtrent sweet om ’n oorwinning te beklink.

Ná 20 minute was die telling 3-3, met slegs Carlo le Roux se suksesvolle strafdoel wat die Lulu Boys punte op die telbord verseker het. Dit het die Lulus byna 40 minute geneem om die eerste van twee drieë te druk.

Die tuisspan se verdediging was puik en die besoekende span moes baie hard werk om agter die doellyn te kom. Die eerstefase-balbesit aan albei kante was van ’n goeie gehalte ten spyte daarvan dat nie een van die spanne die punte daarvoor ingeoes het nie.

Rangers het eerste ’n onverdoelde drie aangeteken (8-3). Die Lulus se eerste drie het laat in die eerste helfte gekom toe die kranige en veelsydige agterspeler Bradley Robertson oor die kalklyn geseil het. Le Roux se doelskop was suiwer (10-10).

Met die wind agter die rug het die besoekers met die afskop van die tweede helfte vinnig uit die blokke gespring. Al was die wind ’n bepalende faktor, het dit nie veel verskil op die telbord vir enige van die spanne aangebring nie.

Rangers was fisiek baie sterk, maar die Lulu Boys het telkemale hul troefkaart gebruik om oor die voordeellyn te kom. Die spoed waarteen die besoekers se agterlyn met die bal gehardloop het, het die tuisspan keer op keer geflous.

Maar, soos die telbord aandui, was Rangers ewe sterk op die aanval.

Die skopvoet van Patrick van Wyk het aan die einde daartoe gelei dat die Lulu Boys met die oorwinning weggestap het.

“Ons voorspelers het hard gewerk en moes by die eerstefase-bal alles insit,” het Mirwaan Davids, hoofafrigter van St. George’s, gesê.

“Maandag het ons vir die spelers gesê dat Rangers glad nie ’n maklike span gaan wees om te klop nie en hulle gewaarsku om in gedagte te hou dat daar nooit meer as vyf punte verskil op die telbord is wanneer dié twee spanne mekaar die stryd aansê nie. Die afstand tussen die klubs is dalk baie kilometers, maar hierdie is een stryd wat gewis soos ’n derby voel.”

V Strand United het sy eerste bonuspuntwedstryd met vier drieë gewen toe hy Young Wesleys 33-7 geklop het.

United het ’n nuwe afrigtingspan, so dié oorwinning is dalk die begin van ’n nuwe era vir hulle.

’n Moeilike seisoen lê egter nog voor, met ’n paar derbystryde wat vir die United-manne wag.

V Strand het op sy beurt teen Elsiesrivier te staan gekom en die wedstryd 38-19 oorheers. Die twee Strand-spanne is nou gemaklik in die top-ses van die WP Superliga C-punteleer.

V Gordon Leopards het Faure 29-24 geklop. Die nuwe Simonsberg-ligaspan is nou onoorwonne ná vier wedstryde en spog tans met ’n voorsprong van vyf punte boaan die punteleer.

V Sir Lowrians is ook boaan die Noordelike streekliga nadat hy Albions van die Paarl 18-17 geklop het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak DistriksPos Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.