Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Jannie Marais se nalatenskap die naweek gevier
: Johannes Henoch Marais sou op 30 Mei 100 jaar oud gewees het. ’n Spesiale dinee en kranslegging word hierdie naweek gehou om sy lewe te gedenk.

Johannes Henoch Marais is in 1915 oorlede, maar hierdie “weldoener van Stellenbosch” se nalatenskap word steeds gesien in die akademiese en maatskaplike lewe van dié Bolandse dorp.

Op 30 Mei vanjaar, presies 100 jaar na sy afsterwe, word daar met ’n dinee, ’n dokumentêre video, ’n boek en ’n kranslegging hulde gebring aan Marais, deur wie se toedoen die Universiteit Stellenbosch (US) en die mediareus Naspers tot stand gekom het.

Die kranslegging sal die oggend om 10:00 by sy graf teen Papegaaiberg plaasvind, en die dinee om 18:30 by sy voormalige huis op Coetzenburg. Hierdie huis is nou die tuiste van Maties Sport. Met hierdie geleentheid word ook die 100-jarige bestaan van Het Jan Marais Nationale Fonds (HJMNF) herdenk.

’n Boek deur prof Pieter Kapp oor die lewe van Jan Marais, Nalatenskappe sonder einde: Die verhaal van Jannie Marais

en die Marais-broers

en ’n dokumentêre film, Die goeie gewer deur Herman Binge, word ook bekendgestel. Die film sal ook op Sondag, 31 Mei op kykNET uitgesaai word. ’n Uitstalling in die kelder van die Jan Marais-huis, asook ’n uitstalling in die US se biblioteek sal in woord en beeld die verhaal van die Marais-broers vertel.

Oom Jannie is in 1870 as 19-jarige saam met drie van sy broers na die delwerye by die sameloop van die Vaal- en Oranjerivier. Hier het sy broer Christiaan ’n ryk kleim afgesteek. Die broers het hul sakebelange uitgebrei, en ’n jaar later het hulle na Kimberley verhuis, waar hulle groot aandeelhouers in De Beers Consolidated Diamond Mines geword het.

Met sy terugkeer na Stellenbosch in 1891 het Marais en sy broer, Frikkie, die plaas Coetzenburg van hul ma gekoop. Jannie sou egter ook later sy broer se deel uitkoop. Hy het hom gou onderskei as een van die leidende figure van die dorp en hy sou dan ook in 1910, met Uniewording, die eerste Stellenbosser word om in die Volksraad te dien.

Oom Jannie het in 1915 £100 000 in sy testament nagelaat vir die stigting van die Universiteit Stellenbosch, wat uit die Victoria Kollege gebore is. In vandag se terme is hierdie bedrag, ongeveer R100 miljoen werd. Danksy sy ruim skenkings is ook die stigting van Nasionale Pers (Naspers) en Die Burger moontlik gemaak.

Sy testament het ook voorsiening gemaak vir die totstandkoming van HJMNF, wat steeds jaarliks ongeveer R20 miljoen beskikbaar stel aan allerlei ontwikkelingsprojekte in Stellenbosch en ook landswyd as steun vir Afrikaans.

Van die skenkings sluit in ’n jaarlikse bedrag aan elke skool in die Stellenbosse munisipale gebied; ondersteuning aan tehuise vir bejaardes en gestremdes en ’n bydrae tot SciMathUS, ’n oorbruggingsprogram van die US wat jongmense ’n tweede kans bied om hul matriekpunte te verbeter met die oog op universiteitstoelating

Kontak Eikestad Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.