Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Meer as 60 0000 km in die saal en hy trap nog steeds
Met vervoermaand nou in die kollig, het Hugo Truter met ’n bekende Stellenbosser, dr Allan Heydorn oor sy fietsrygewoontes gaan gesels.
Allan Heydorn ry al sy hele lewe lank fiets en hy skat dat hy al tot soveel as 60 000 km op sy fiets afgelê het. Foto: hugo truter

1.Hoe lank ry jy al met jou fiets werk of winkels toe?

Ek ry al my hele lewe lank fiets, as skoolseun en student op Stellenbosch, later as student by Ikeys en vir die afgelope 36 jaar in Stellenbosch en op Bettysbaai. Nie net is ek lief vir fietsry nie, maar dit is baie meer koste-doeltreffend om korter afstande met ’n fiets te ry as per motor. Ek het ook aan fietstoere soos die Argus en Sanlam deel geneem. Nou op 85-jarige leeftyd verkies ek nog steeds om eerder per fiets as per motor te ry.

2.Hoe het dit jou lewe verander?

Fietsry is eintlik deel van my leefstyl sedert my skooljare. Daarby natuurlik die strewe om so omgewingsvriendelik as moontlik te lewe en om te help om die historiese kern van Stellenbosch teen verstopping en besoedeling deur motorvoertuie te beskerm.

3.Waarheen is jy op pad en hoe ver ry jy elke dag?

Dit wissel, maar ek verkies om ligte besigheid met ’n fiets af te handel. Ek ry ook vir plesier en oefening fiets, maar is nou versigtig om alleen langpad te ry weens misdaad, byvoorbeeld van Stellenbosch na Bettysbaai (70 km).

4.Vertel ons meer van jou fiets.

Ek het al baie fietse gehad – as student Raleighs en BSA’s met Sturmey-Archer drie-spoed agterasse, daarna Cannondale en Trek met 26”-wiele en 27 ratte. Nou ’n Silverback met 29”-wiele en 30 ratte. Met die Cannondale het ek 24 961km gery voordat dit gesteel is. Ek skat dat ek in my lewe seker 50 000 tot 60 000 km per fiets gery het.

5.Het jy raad vir mede-fietsryers wat werk toe ry?

Ja. Veral in Stellenbosch is fietsry gevaarlik weens nou paaie, te veel motors, taxi’s en studente. Dit is dus uiters belangrik om bedagsaam te wees, nie net vir die persepsies en behoeftes van motorvoertuig bestuurders en voetgangers. Veral vragmotors en busse is gevaarlik op die smal Stellenbosch-paaie. My leuse is: “Vertrou geen motor of vragmotor nie, wees liewers Bangjan as Dooiejan”.

6.Watter infrastruktuur-veranderinge sal jy graag wil sien in Stellenbosch?

Hoe kan ons ons dorp meer fietsry-vriendelik maak?

Die huidige pogings in Stellenbosch om fietsbane te skep wat apart is van die strate en hoofpaaie en strate word sterk verwelkom. Maar ook hier moet fietsryers bedagsaam wees op die behoeftes van voetgangers. Veral kinders en mense wat loop terwyl hulle in hul selfone verdiep is, is gevaarlik

Kontak Eikestadnuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.