Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Moedertaalonderrig van ‘kardinale belang’

Moedertaalonderrig is van kardinale belang, nie net vir Afrikaans nie, maar veral vir sprekers van inheemse tale.

Dit is die mening van dr. Michael le Cordeur, ’n senior lektor by Universiteit Stellenbosch (US) se fakulteit opvoedkunde.

“Daar is oorweldigende bewyse nasionaal en internasionaal dat leer deur die moedertaal vir minstens die eerste ses jaar van ’n kind se lewe, help om leer te bevorder. Ervaring oor die wêreld het ook getoon dat kinders ’n tweede (wêreld-) taal baie meer effektief aanleer indien hulle in ’n taal onderrig word wat hulle verstaan.”

Le Cordeur sê leerders se vooraf kennis lê in hul moedertaal opgesluit en leerders wat onderrig in hul moedertaal ontvang, het dieper vlakke van begrip wat hulle in staat stel om kennis van een konteks na ’n ander oor te dra.

“Die probleem is dat baie min leerders moedertaalonderrig ontvang, wat ’n reuse-uitwerking het op hul vermoë om die kurrikulum baas te raak. Prestasiepatrone dui byvoorbeeld daarop dat leerlinge swak vaar in gesyferdheid omdat hulle nie uitdrukkings soos ‘verdubbel’ en ‘halveer’ verstaan nie.”

Le Cordeur sê Suid-Afrika hoef nie ver te soek na voorbeelde van bemarkingstrategieë om inheemse tale as onderrigtale te bemark nie. Afrikaans, wat vanjaar sy 90ste bestaansjaar vier, is ’n voorbeeld van ’n inheemse taal wat tot ’n satelliet- en onderrigtaal ontwikkel het.

“Afrikaans, eens geëtiketteer as ’n kombuistaal, is vandag ’n wêreldtaal; ’n taal van onderwys, wetenskap en ekonomie. Daar is vir almal baie lesse te leer by Afrikaans.”

Le Cordeur meen die regering moet die belangrikheid van moedertaalonderrig besef en doelbewus te werk gaan om moedertaalonderrig in Suid-Afrika te ontwikkel.

“Die regering sal moet besef dat taal en taalontwikkeling ook vir die bewindhebbers voordele inhou. Daarom sal dit die burgerregtelike samelewing loon om te mobiliseer rondom taalregte en die praktiese voordele daarvan.

“Ons tale moet as bates bestuur word en die nodige taalinfrastruktuur moet uitgebou word sodat die grondslag vir ’n taalekonomie gelê kan word ten einde die ekonomiese voordele van ons diversiteit te ontgin.

“Elke leerder moet weet dat ’n deeglike kennis van sy of haar moedertaal, naas ’n grondige kennis van Engels, ’n ekonomiese bate is wat vir hulle werksgeleenthede kan ontsluit.”

Prof. Christa van der Walt, van US se departement kurrikulumstudies, sê moedertaalonderrig lê ’n goeie fondament vir die aanleer van ’n tweede taal en vergemaklik die verstaan van moeilike begrippe.

Van der Walt sê egter ook die meertalige aard van ons land se skole maak dit moeilik om een taal van onderrig te kies. “Die moedertaal is die beste om ’n brug tussen huis en skool te slaan, maar regoor die wêreld moet studente in twee tale hul akademiese werk doen.

“Daar moet dus ruimte vir meer as een taal in die klaskamer geskep word om begrip te bevorder. Indien kinders die luukse gehad het om in hul moedertaal op skool onderrig te word, sal hulle taamlik gou die vaardighede in ’n ander taal, meestal Engels, ook ontwikkel.”

Kontak Eikestad Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.