Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Wynbedryf steier onder nuwe regulasies vir Sondag-verkope

Stellenbosch en Franschhoek se wynbedryf steier ná hul kennis geneem het van nuwe wetgewing wat die verkoop van wyn by kelders op Sondae verbied.

Stellenbosch-munisipaliteit se nuwe wetgewing is op Vrydag 31 Julie bekragtig.

Volgens die nuwe wetgewing mag wyn wat nie by die wynkelders verbruik gaan word nie, net van Maandag tot Saterdag tussen 09:00 en 20:00 verkoop word.

Die nuwe wetgewing bepaal ook dat kelders wat wyn buite die bepaalde dae en tye wil verkoop, vir verlengde besigheidsure aansoek moet doen. Dit sal hulle in staat stel om Sondae wyn tussen 11:00 en 18:00 te verkoop.

Nora Sperling-Thiel van die Delheim-wynlandgoed sê Sondae is hul belangrikste dag van die week.

“Plaaslike inwoners het dan die geleentheid om uit te ry, die plaaslike wynplase te besoek, heerlike middagetes te geniet, en dan ’n bottel of twee wyn te koop as aandenking van hul besoek.

“Die toerisme-ervaring is belangrik, naweke maak dit moontlik vir werkende mense om ook plase te besoek, dit skep werk en dra by tot die plaaslike ekonomie.”

Volgens Annareth Bolton, uitvoerende hoof van Stellenbosch Wynroetes, is daar 70 wynplase in Stellenbosch, terwyl Franschhoek Vignerons 26 plase het wat Sondae oop is.

Stellenbosch-munisipaliteit het egter bevestig dat kelders met die verkope van wyn op Sondae mag voortgaan tot die aansoeke gefinaliseer is

Kontak Eikestadnuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.