Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Adam Small hou mense bymekaar
Adam Small-teaterkompleks
Prof. Wim de Villiers, rektor en visekanselier van die Universiteit Stellenbosch (US), knip Vrydag die lint by die opening van die Adam Small-teatersentrum by die US. Foto: Stefan Els

“Ons vernoem hierdie teaterkompleks na Adam Small om hom as een van ons grootste denkers en skrywers te erken, om sommige van die onregte wat teen hom en ander slagoffers van apartheid gepleeg is reg te stel, en om die wonde van die verlede te genees . . . om weer diegene wat, in die woorde van Adam Small, deur ’n ‘bose stelsel’ van mekaar weggeruk is, bymekaar uit te bring.”

Dit was die woorde van prof. Wim de Villiers, rektor en visekanselier van die Universiteit Stellenbosch (US) by die naamgewingseremonie van die HB Thom-teater na die Adam Small-teaterkompleks verlede Vrydag 23 November.

Die US se opgeknapte en heringerigte teaterkompleks is na die bekroonde digter en dramaturg Adam Small vernoem. Die naams-verandering is deel van ’n proses van visuele regstelling en vernuwing van openbare ruimtes, simbole, geboue en fasiliteite by die universiteit.

Small het in 2015 ’n eredoktorsgraad van die US ontvang.

Die Adam Small-teater­kompleks is ’n multifunksionele fasiliteit wat die groot ouditorium (tot nou toe die HB Thom-teater) in die kompleks, ’n seminaarkamer en ’n kleiner laboratorium-teaterruimte insluit. Hoewel die naam HB Thom-teater voortaan nie meer gebruik sal word nie, sal dit in die opgeknapte gebou gekontekstualiseer word. Die aangrensende drama­departement sal nou die eerste keer funksioneel by die teaterkompleks aansluit.

De Villiers het by die geleentheid gesê die naamgewing gaan oor “erkenning, regstelling en versoening”.

Adam Small wou graag aan die US studeer, maar is weens apartheid nie toegelaat nie.

De Villiers het Small as ’n morele gewete en kritiese stem gedurende apartheid beskryf en gesê die US is dankbaar en trots om met sy ryke erflating geassosieer te wees.

“Ons sou graag wou sien dat die visie van menswaardigheid en regstellende geregtigheid ’n werklikheid word.”

Na afloop van die naamgewingseremonie het die vermaaklikheidster Natalia da Rocha en lede van die Applauz Arts-inisiatief die gaste op musiek getrakteer wat uit Adam Small se gepubliseerde en ongepubliseerde gedigte getoonset is.

Die gaste het ook die geleentheid gehad om die teaterkompleks te besigtig.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Eikestad Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.