Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Afrikaans te kosbaar vir ons om te verloor

’n Onlangse artikel oor moedertaalonderrig in Die Burger (02/05/2019) bied ’n internasionale perspektief op die belangrikheid van moedertaalonderrig.

Daar is genoeg akademiese navorsing wat bewys dat die gehalte van onderrig in die moedertaal van die student lei tot beter begrip en toepassing van kennis op professionele gebied. Die wetenskap kan ten beste ontsluit word, en die resultate daarvan gekodifiseer word in die moedertaal van die leerder wat hierdie vakterrein probeer bemeester.

In my ondervinding as dosent van meer as 30 jaar in die gesondheids­wetenskappe was dit duidelik dat wetenskaplike begrippe soos homeostase, diffusie, osmose, elektromagnetiese golwe, oksidasie en reduksie ten beste verstaan kan word indien die dosent en student se taalvaar­digheid hom of haar in staat stel om hierdie prosesse verstaanbaar te ver­duidelik. Om nuwe en moeilike vak­terreine in ’n tweede taal te bemeester, vererger die probleem meervoudig.

Selfs akademiese navorsingsartikels wat in Afrikaans of Engels in vaktydskrifte gepubliseer is, is soms selfs vir professionele mense moeilik verstaanbaar. Dit is vir die wetenskapverslaggewer nodig om die resultate van navorsing in verstaanbare formaat aan te bied – nie net vir professionele mense nie, maar ook vir Jan en alleman, om sin te maak van die skynbaar teenstrydige verslae wat gepubliseer word. Indien navorsing nuwe insigte na vore bring wat ou gevestigde begrippe omverwerp, moet die publiek daaroor ingelig word.

Dit is belangrik om te weet dat die wetenskap nie staties bly nie, maar gedurig moet aanpas namate moderne navorsingsmetodes nuwe feite aan die lig bring.

Dit is merkwaardig dat Afrikaans as wetenskaptaal die nomenklatuur ontwikkel het om akademiese onderrig in dissiplines soos geneeskunde en ingenieurswese moontlik te maak. Daar is genoegsame bewyse dat studente wat voorgraads in Afrikaans onderrig is, op internasionale gebied hul man (en vrou) in ’n Engelse omgewing kan staan. Dit is ook geen probleem vir hulle om hul navorsingsartikels in Engels aan te bied en by internasionale kongresse voor te dra nie. Ons kan met reg trots wees op ons taal wat sy sprekers in staat stel om akademies te presteer en hulle ook in staat stel om uitdrukking te gee aan hul kulturele identiteite.

Dit geld dus ook vir Afrikaanse musiek en letterkunde, wat ryk is aan publikasies en toonsettings van hoogstaande gehalte.

Die onderrigverantwoordelikheid van onderwysers en akademici eindig nie net by skool- en universiteitsvlak nie, maar hulle het ook ’n verantwoordelik­heid teenoor die publiek om die weten­skap in verstaanbare taal aan hulle te verduidelik.

Ek is gevra om ’n gereelde rubriek van “Wat sê die Dokter” in ’n Afrikaanse tydskrif te behartig. Op ’n dag skryf iemand en vra: “Wanne skryf dokte dan wee virrie Hysgenoot?” Ek besef toe opnuut dat mense op alle vlakke van die samelewing ’n behoefte het aan betroubare inligting aangaande hul gesondheid in ’n taal wat hulle verstaan.

Die wortels van Afrikaans in al sy variante is gevestig in die mond van die mense wat hulle hier aan die suidpunt van Afrika kom vestig het. Dit is ons verantwoordelikheid om ons taal vir ons nageslag te koester en te bewaar.

Dit is die taal waarmee ons identifiseer en waarin ons ons ten beste kan uitdruk. Die verengelsing van die onderwysstelsel in Suid-Afrika is onrusbarend. Dit wil voorkom asof daar nie ’n politieke wil is om moedertaal­onderrig te bevorder nie.

Ons moet die ervaring in Nederland oor die verengelsing van die onderwys in daardie land ter harte neem.

Afrikaans is vir ons te kosbaar om te verloor.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Eikestad Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.