Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Alkohol, dwelms kan tot selfbeskadiging lei
Dr. Elsie Breet: “Tot 37% van die selfbeskadigingspasiënte het aangedui dat hulle ’n geskiedenis van chroniese substansgebruik het.”

As jy middels soos alkohol en onwettige dwelms gebruik, loop jy ? groter risiko vir selfbeskadiging  en ander vorme van selfdood-gedrag wat ernstige openbare gesondheidsprobleme in Suid-Afrika is.

Dit is een van die bevindinge van 'n onlangse studie aan die Universiteit Stellenbosch (US) wat deur die Mediese Navorsingsraad en die Nasionale Navorsingstigting befonds is.

“Die gebruik van middels soos alkohol en onwettige dwelms kan tot selfbeskadiging lei deur inhibisie te verlaag, gevoelens van woede en aggressie te vererger en mense se vermoë om goeie oordeel aan die dag te lê, te belemmer. Dit kan ook psigotiese simptome bespoedig en paranoia, waanvoorstelling en hallusinasies veroorsaak wat 'n persoon beveel om hom of haar te beseer of dood te maak,” sê dr Elsie Breet van die US se Departement Sielkunde.

Breet het in haar onlangse doktorale studie in Sielkunde aan die US gekyk na die verband tussen substansgebruik en selfbeskadiging onder pasiënte wat by die Groote Schuur-hospitaal in die Wes-Kaap behandel is. Selfbeskadiging is wanneer 'n persoon hom of haar opsetlik, maar nie noodlottig beseer of vergiftig nie, ongeag die voorneme om te sterf of nie.

Breet sê daar is toenemende bewyse van ? behoefte aan konteks-spesifieke bewysgebaseerde navorsing wat as riglyn kan dien vir voorkoming- en intervensiestrategieë rakende selfdood. Sy voeg by dat min inligting in Suid-Afrika beskikbaar is oor die voorkoms, korrelasies, aard en konteks van substansgebruik onder selfbeskadigingspasiënte. Dit belemmer die beplanning van hospitaal-gebaseerde intervensies wat empiries gefundeer is.

As deel van haar navorsing het Breet 'n sistematiese oorsig gedoen van 108 internasionale studies oor die verband tussen substansgebruik en selfdood-gedrag in lae- en middel-inkomste lande. Sy het ook 'n retrospektiewe oorsig gedoen van die rekords van 230 selfbeskadigingspasiënte om hul demografie, die wyse waarop hulle van mediese dienste gebruik gemaak het en die sosiokulturele verskille tussen selfbeskadigingspasiënte wat middels gebruik en diegene wat dit nie doen nie te bepaal.

Verder het Breet onderhoude met 80 selfbeskadigingspasiënte gevoer om te bepaal hoe hulle die verband tussen substansgebruik en hul selfbeskadiging verstaan.

Breet sê 'n oorsig van die literatuur toon dat daar vir elke voltooide selfdood ongeveer 8 tot 22 besoeke by die ongevalle-eenheid ná 'n daad van selfbeskadiging is. “Studies het gereeld gewys dat substansgebruik 'n risikofaktor vir selfbeskadiging is wat op maniere gewysig kan word om die risiko van selfbeskadiging te verminder,” voeg sy by.

Sy sê beskikbare gepubliseerde data suggereer selfbeskadiging kom meer algemeen voor onder Suid-Afrikaners wat vroulik, jonger (dws in die ouderdomsgroep 18 tot 34 jaar), minder geskool, enkellopend, werkloos en sosiaal geïsoleer is, of 'n geskiedenis van trauma het.

Rakende die pasiënte wat aan haar studie deelgeneem het, sê Breet “soveel as 37% van die selfbeskadigingspasiënte het aangedui dat hulle 'n geskiedenis van chroniese substansgebruik het. Vergeleke met ander selfbeskadigingspasiënte was diegene met 'n geskiedenis van chroniese substansgebruik meer geneig om manlik te wees, en hulle te sny of te hang. Hulle het ook 'n geskiedenis van vorige voorvalle van selfbeskadiging.”

“Een uit vyf selfbeskadigingspasiënte het aangedui dat hulle middels vóór die selfbeskadiging gebruik het. Selfbeskadigingspasiënte wat middels gebruik het was ook meer geneig om depressiewe bewussynsvlakke te hê wanneer hulle in die hospitaal opgeneem word, en was meer geneig om 'n groter aantal mediese hulpbronne te benut en langer in die hospitaal  te bly.”

“Pasiënte wat onder die invloed van middels was ten tye van selfbeskadiging, was ook meer geneig om 'n geskiedenis van vorige selfbeskadigings te hê en het aangedui dat hulle van plan was om te sterf weens hul beserings.”

“Sommige pasiënte het aangedui dat hulle oor 'n lang tydperk onder die invloed van middels was en dit herhaaldelik gebruik het in vergelyking met ander selfbeskadigingspasiënte.

Met verwysing na die Wêreldgesondheidsorganisasie se verklaring dat die gebruik van middels aangespreek moet word as 'n integrale deel van die voorkoming van selfdood, sê Breet dit is noodsaaklik dat selfdoodintervensies  by die Groote Schuur-hospitaal strategieë en verwysings insluit wat op substansgebruik fokus.

“Hospitaal-personeel moet bewus gemaak word van en toegerus wees met vaardighede en kennis oor hoe om ongesonde patrone van substansgebruik onder selfbeskadigingspasiënte aan te spreek.”

“ ? Dieper begrip oor die verband tussen die gebruik van middels en selfbeskadiging sal bydra tot die ontwikkeling van toepaslike en koste-effektiewe bewysgebaseerde voorkoming by die hospitaal.”

Breet sê die evaluering en hantering van substansgebruik moet integraal wees tot die versorging van alle individue wat die risiko loop om selfdood te pleeg. Die aanspreek van substansgebruik moet 'n integrale komponent van die voorkoming van selfdood in die land wees, voeg sy by.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Eikestad Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.